Posted on Monday, 05 Nov 2012
BLOEMFONTEIN. – “Die arme kinders.”
Só het ’n bekommerde tannie eergister van die paviljoen hier op Shimlapark die emosies van verskeie oud-Shimlas opgesom nadat hulle slegs ’n paar minute op die rugbyveld was.
Dié tante was selfs meer besorg toe ’n knaap met ’n bleek gesig in die vertoonwedstryd tussen die Shimlas en ’n groep oud-Shimlas uitasem moes afkom.
Dié wedstryd is aangebied ter viering van die 100ste bestaansjaar van die Universiteit van die Vrystaat se rugbyklub.
Dit was uit die staanspoor ’n ware feeswedstryd, met die reëls van die spel wat nie altyd top-prioriteit geniet het nie.
Gelukkig het die skare nie omgegee dat die skeidsregter die ou manne met min asems goedgesindheid was nie.
Daar was inderdaad ’n eindtelling, maar dit was immers nie waaroor die kragmeting gegaan het nie. Die jong Kovsies was met 41-10 baas.
Maar moenie dink dit sou spelers soos die voormalige Bok-stut Ollie le Roux, oud-Blitsbok Philip Burger of oud-Vrystaat-senter Chris Kruger se bier die Saterdagaand enigsins bitterder laat smaak het nie.
Vir hulle en die 31 ander wat die eerste keer in jare weer Shimla-blou gedra het, was die ervaring meer werd as die uitslag.
Kruger-hulle het skaflik begin en die jong manne aanvanklik goed in toom gehou. Hulle het die Shimlas tot ’n rustyd-voorsprong van net 7-5 beperk. Bygesê dat ’n aanslaan voor die oud-Shimlas se drie, kort voor die omdraaislag deur die slot Hannes Tredoux, deur die fluitjieblaser oorgesien is.
Die oud-Shimlas het ook in die doodsnikke vir heerlike vermaak gesorg toe dié span se afrigters, Waksie Prinsloo en Theo Oosthuizen, besluit het om al 34 hul spelers gelyk op die veld te stuur.
Dit was een van die middag se hoogtepunte en het uiteindelik op die verloorspan se tweede drie uitgeloop.
Die jong Shimlas het in die tweede helfte aansienlik makliker gapings gevind soos die ou manne se petrol opgeraak het en nóg ses keer gedruk.