Posted on Friday, 08 Mar 2013
BLOEMFONTEIN. – Werk Saterdag harder in die Highlanders se kwartgebied.
Dít is een van die belangrikste boodskappe wat vandeesweek aan die Toyota Cheetahs in videosessies en oefeninge in Queenstown, Nieu-Seeland, deurgegee is.
Hulle het verlede naweek ’n goeie vertoning in die eerste helfte teen die Chiefs gelewer, maar gesukkel om baie besit en gebiedsvoordeel in dié tyd in punte te omskep.
Daarom was die besoekers teen rustyd met 3-10 in Hamilton agter, eerder as om ’n welverdiende voorsprong te geniet.
Die sentrale streekspan wil graag op sy vertoning in die eerste 40 minute teen die Chiefs voortbou – en daarom meen Hawies Fourie, die Toyota Cheetahs se agterlyn-afrigter, hy moet die naweek in Invercargill skerper binne trefafstand wees.
“Ons het in die eerste helfte teen die Chiefs goed aangeval, tot ons in hul kwartgebied gekom het.
“Ons het dan te vinnig wyd vanaf die losskakel of een-een vanaf die skrumskakel gespeel,” het hy gesê.
“As jy in die kwartgebied te vinnig wyd speel, druk die verdediging jou uit.”
Hy meen dis daarom belangrik om koelkop te bly.
“As jy sowat 70% gebiedsvoordeel en 56% besit het, móét jy meer as 3 punte in ’n wedstryd kry.”
Om dié probleem op te los, sal die Cheetahs ’n hoër werkverrigting in hul teenstanders se kwartgebied moet handhaaf.
“Die verskil tussen ons en die Chiefs was dat wanneer hulle in ons kwartgebied kom, het al hul spelers hard gewerk om in die regte posisie te kom.
“Jou werkverrigting móét hoog wees.
“Ons moet in die ander span se kwartgebied op die voordeellyn speel.
“Ons kom te stadig in plek, maar het hard daaraan gewerk.”
Die Chiefs het boonop verlede jaar net 30 drieë, die naasminste ná die Stormers (21), in die reeks afgestaan.
Al het die Highlanders in 2012 slegs een plek hoër, negende, op die algehele puntelys bo die Toyota Cheetahs klaargemaak, was hul lakwerk ook goed.
Hulle het slegs 31 drieë in 16 kragmetings, teen ’n gemiddeld van twee per wedstryd, afgestaan.
• Die Springbok-flank Heinrich Brüssow sal soos verwag die eerste keer in sowat vyf maande teen die Highlanders in ’n Super-wedstryd speel.
Die Toyota Cheetahs het egter besluit om hul hardwerkende lostrio van Philip van der Walt, Lappies Labuschagné en Frans Viljoen te behou. Brüssow is eers ’n plaasvervanger in Boom Prinsloo se plek.
Volgens Fourie sal dié baljagter waarskynlik net ’n helfte of sowat 30 minute speel.
Die Bok-stut Coenie Oosthuizen is ’n derde agtereenvolgende week ’n plaasvervanger.
Oosthuizen kan saam met Brüssow en die skrumskakel Piet van Zyl groot impak in die tweede helfte maak.
• Toyota Cheetahs-span
Hennie Daniller, Willie le Roux, Johann Sadie, Robert Ebersohn, Raymond Rhule, Johan Goosen, Sarel Pretorius, Philip van der Walt, Lappies Labuschagné, Frans Viljoen, Francois Uys, Lood de Jager, Lourens Adriaanse, Adriaan Strauss (k), Trevor Nyakane. PLAASVERVANGERS: Ryno Barnes, Coenie Oosthuizen, Ligtoring Landman, Heinrich Brüssow, Piet van Zyl, Riaan Smit, Rayno Benjamin.