Posted on Wednesday, 03 Oct 2012
BLOEMFONTEIN. – Die beseringspook het in 2012 se Curriebeker-rugbyreeks ’n voorliefde vir Vrystaat-losvoorspelers ontwikkel en gister het die Springbok-flank Heinrich Brüssow wéér ’n slagoffer geword.
Die Toyota Vrystaat Cheetahs sal nie net Saterdag hier teen die Haaie sonder Brüssow moet klaarkom nie, maar is sy dienste vir sowat ses maande kwyt.
Volgens Naka Drotské, die Toyota Vrystaat Cheetahs se afrigter, sal dié baljagter binnekort onder die mes wees nadat hy Saterdag in die Vrystaat-stadion teen Griekwas sy skouer beseer het.
Maar die tuisspan se krisis eindig nie by Brüssow nie, wat die vyfde losvoorspeler op sy lang krukkelys geword het. Drotské se spens is leeg nadat Hendro Scholtz dalk ook nie die Haaie kan pak nie.
Scholtz het teen die Poubloues ’n harde hou teen die kop gekry en is in ’n wedloop teen tyd gewikkel om reg te wees.
Hy moet nog toetse slaag.
Die Toyota Vrystaat Cheetahs het slegs drie fikse losvoorspelers, Philip van der Walt, Lappies Labuschagné en Davon Raubenheimer, oor Brüssow sluit hom by Kabamba Floors (knie), Frans Viljoen (arm), Boom Prinsloo (skouer) en Juan Smith (haksening) op die losvoorspeler-krukkelys aan.
As Scholtz nie beskikbaar is nie, sal die Vrystaatse afrigter skielik ’n ander plan moet beraam.
Volgens Drotské sal Francois Uys, wat die laaste tyd as slot ingespan word, flank moet speel en die jong Carl Wegner op slot sak.
Waltie Vermeulen sal dan ’n plaasvervanger-slot wees.
Brüssow sal waarskynlik eers weer Maart speel en volgens Drotské die eerste paar Super-rugbywedstryde misloop.
Dié Springbok-losvoorspeler behoort eers ná die Toyota Vrystaat Cheetahs se oorsese Super-toer terug te keer.
Die Toyota Vrystaat Cheetahs se eerste stryd terug, is op 30 Maart – hier teen die Melbourne Rebels.
“Dis vir ons ’n baie groot slag. Heinrich is een van ons mees ervare spelers en ’n Springbok.
“Vir hom om ses maande uit te wees, is ’n yslike slag,” het Drotské gister gesê.
Dis Brüssow se tweede besering tydens vanjaar se Curriebeker.
Hy het die eerste vier wedstryde uitgesit weens ’n kniebesering, wat hy aan die einde van vanjaar se Super-reeks opgedoen het.
Sedert sy terugkeer, het hy net teen die Westelike Provinsie, Leeus, Blou Bulle en Griekwas gespeel.
Die vleuel Rayno Benjamin, wat weer fiks is nadat hy hom skielik kort voor die Griekwas-wedstryd oor ’n seer dyspier moes onttrek, behoort Philip Burger op die plaasvervangersbank te vervang.