Are you ready for the clash?

Buy your tickets online!

Online Tickets

Bok-doel bereik

Posted on Thursday, 29 Nov 2012

Bok-doel bereik

 

JOHANNESBURG. – Om binne een jaar van die vierde plek op die wêreldranglys tot tweede te klim, is ’n prestasie wat die Springbok-afrigter, Heyneke Meyer, gister behoorlik laat pronk het.
 
Meyer en sy toergroep het gister hier op die O.R. Tambo-lughawe geland ná hul terugkeer uit Brittanje en Ierland, waar die span al drie sy wedstryde gewen het.
 
Ofskoon geeneen van die oorwinnings die verbeelding aangegryp het nie, het dit vir Meyer en sy spelers geweldig baie beteken.
 
“Ons het vanjaar net drie uit twaalf wedstryde verloor.
 
“Selfs as jy na van ons beste seisoene soos 2007 (Wêreldbeker-oorwinning) en 2009 (Britse Leeus-reekssege en Drienasies-kroon) kyk, het ons toe meer as vanjaar verloor.
 
“Ons afrigtingspan kon vanjaar eers op ’n laat tydstip met die spelers begin werk, want die meeste van hulle was nog deel van Super-rugby.
 
“Ons het altyd geweet dit gaan ’n moeilike jaar wees met al die spelers wat ons verloor het.

“Die All Blacks is steeds voor ons, maar ons het vierde op die ranglys begin en tweede geëindig. Nou moet ons daardie gaping (tussen Suid-Afrika en Nieu-Seeland) laat krimp en as ’n span groei,” het Meyer gesê.
 
Volgens Meyer het sy span al drie doelwitte wat hy voor die toer aan homself gestel het, bereik. “Ons wou onoorwonne wees, ons wou die nommer twee rang­lys-posisie kry en ons wou die Springbok-ondersteuners trots maak.
 
“Dit was regtig wonderlik om al die ondersteuning op Twickenham en vandag (gister) hier op die lughawe te sien,” het hy gesê.
 
Nou sien die Bok-afrigtingspan uit na ’n 2013-seisoen waarin verskeie beseerde spelers soos Schalk Burger, Bismarck du Plessis, Andries Bekker, Heinrich Brüssow, Johan Goosen en Bryan Habana hopelik weer ná hul beserings sal kan terugkeer.
 
“Vanjaar het ons ’n klomp babas gekies en hulle het mans geword.
 
“Dit gaan wonderlik vir Suid-Afrikaanse rugby wees as al die beseerdes terug is.
 
“Die mededinging vir plekke gaan iets ysliks wees,” het Meyer gesê.
 
Die afrigter sal wel wil kyk na die gemiddelde strafskoptelling van 17 op die pas afgelope Britse toer. Die kondisionering van spelers by hul streekspanne in Super-rugby, ter wille van die nasionale span, moet volgens Meyer voorrang geniet.
 
Benewens die drie nederlae vanjaar, waarvan twee teen Nieu-Seeland en een teen Australië was, het die Springbokke wel ook twee wedstryde gelykop gespeel teen Engeland en Argentinië. 

Dít, asook die Bokke se speelstyl waarin waagmoed gereeld onsigbaar was, het tot grootskaalse kritiek teen Meyer gelei, maar ná die suksesvolle Britse toer skeel dit hom min.
 
“Dit was nooit my bedoeling om kritici te probeer stilmaak nie. “Ek het maar net (uit die openbare reaksie) gesien hoe passievol mense (oor die Bokke) is.” het Meyer gesê.
Share this article: