Posted on Tuesday, 09 Nov 2021
OVS teen Britse Leeus in 1974. Van links is Andy Ripley, Rampie Stander, Stoffel Botha, Willie John McBride en Gareth Edwards.
Vrystaat Rugby het met groot hartseer gehoor van die afsterwe van Stoffel Botha. Stoffel was een van die grootste rugby-karakters in die Cheetah-familie wat tussen 1966 en 1975 in 19 eersterangse wedstryde vir die Vrystaat gespeel.
Stoffel het ook vir die Shimlas uitgedraf en het met groot entoesiasme en toewyding op die klub se bestuur gedien.
“Hy was ‘n interessante karakter, vol humor en ‘n onverbiddelike harde inklim-benadering in rugby gehad.” Soos Harold Verster vir Stoffel onthou.
Stoffel en Johan de Bruyn was saam ‘n gevreesde slotpaar die sewentiger jare. Hulle het menige opponente platgeloop met afskoppe, losgemale en in die algemene spel.
“Stoffel sal baie gemis word en dit is ook opmerklik hoe baie van sy oud-spanmaats, oud-Shimlas en oud-Vrystaat spelers, met hartseer gereageer het op Stoffel se afsterwe.”
“Stoffel was ‘n unieke man en daar kan baie verhale oor hom geskryf word. Van sy spel, karakter en sin vir humor. Ons sal almal vir Stoffel baie mis, want hy het gereeld op die oud-Shimlas en Vrystaat se WhatApp groepies gesels.”
Vrystaat Rugby sal Stoffies baie mis.
Dit is interessant om te meld dat die pak voorspelers wat in 1974 teen die Britse Leeus van Willie John-McBride gespeel het, en byna-byna die wedstryd gewen het, daar net twee lede is wat nie reeds oorlede is nie. Naamlik Harold Verster en Johan de Bruyn. Die ander, nl. Rampie Stander, Andre Bestbier, Martiens le Roux, Jakes Swart, Kleintjie Grobler en nou ook Stoffel Botha is reeds oorlede en word met mooi herinneringe onthou deur die spanmaats wat saamgespeel het. Gelukkig is die volle lyn van agterspelers nog oor.