Posted on Tuesday, 12 Feb 2013
Juan Smith, Springbok-flank, het gister sy uittrede uit alle eersterangse rugby aangekondig nadathy tussen 2002 en 2011 in altesame 198 eersterangse wedstryde gespeel het.
Die feit dat Juan Smith (gebore: 30/7/1981 – Bloemfontein; Gewig: 106kg; Lengte: 1.94m) in 10 seisoene slegs 41 wedstryde (9 as kaptein) vir die Vrystaat Cheetahs gespeel het, wys net hoe bedrywig hierdie begaafde rugbyspeler in dié tyd op ‘n hoër vlak was.
Juan was in slegs 5 van dié 11 seisoene vir Vrystaatse spanne beskikbaar. Hy het in dié tyd 79 Super-wedstryde (43 as kaptein) vir die Katte en die Cheetahs, en in 69 toetse (12 drieë) – asook twee toerwedstryde - vir die Springbokke gespeel.
Hy was ná die uittrede van John Smit aan die einde van die 2011-seisoen ‘n sterk kandidaat om Springbok-kaptein te word, maar ‘n ontydige Achilles-besering in Februarie 2011 het sodanige vooruitsigte vernietig.
Hy is een van 'n klein groepie Suid-Afrikaners wat in die wenspanne om die William Webb Ellis-beker (2007), Drienasie- (2009), die Wêreldbeker (o.21 - 2002) en die Absa Curriebeker (2005) gespeel het. Ander spanne: SA 'A' en SA o.21.
Juan het tussen in sy 198 eersterangse wedstryde gepeel, waarin hy 41 drieë gedruk het.Hy is in November 2012 as die UV-rugbyklub se Voorspeler van die Eeu aangewys. Juan het die UV-rugbyklub bedank vir ’n klomp geleenthede wat hom gebied is en niemand kan sy herinneringe in ’n Shimla-trui wegvat nie.
Juan se loopbaan het by die UV begin nadat sy mentor, Oom Tat Botha, hom as skolespeler by die Hoërskool JBM Hertzog in Bloemfontein raakgesien is. Oom Tat het destyds met Piet Muller, wat tóé die eerste span van JBM Hertzog afgerig het, oorreed om Juan vir verdere studies na die UV te stuur.
“Dis ongelooflik om so teruggeruk te word na waar alles begin het en jou fondament lê,” het Smith gesê.“Ek moet vir die Shimlas eintlik dankie sê vir wat hulle vir my gedoen het en die geleenthede wat ek gekry het, maar hulle vereer my.“Die tye en herinneringe wat ek in die Shimla-trui gehad het, is iets wat niemand van my kan wegvat nie.“Dis ’n ongelooflike ervaring en groot eer.”
Juan is een van die grootste sterre wat Vrystaat-rugby tot nóg toe opgelewer het. Hy is nie net een van die beste flanke ter wêreld nie, maar ook ’n gesinsman, ware Vrystater en sakeman.
In 'n jaar dat Kamp Staaldraad en ander voorvalle van die veld af donkerwolke oor Suid-Afrikaanse rugby laat saampak het, was die spel van die 22-jarige Juan Smith soos 'n vars briesie in Springbok-land.
Hy is aanvanklik in die Super12-kompetisie deur die Katte as impak-speler van die bank af ingespan, maar dit was baie gou duidelik dat hy die bal met groot vaardigheid hanteer. Dit was veral in 'n Super12-wedstryd teen die Brumbies dat hy as plaasvervanger op die veld gekom het en 'n skitterende drie gaan druk, wat die puriste aan die praat gesit het.
Nie eers Straeuli en kie kon Juan se skitterspel aanhou miskyk nie.Tim Lane, destyds afrigter van die Katte, het Juan op nommer7-flank gekies, want hy het gemeen Juan is 'n beter baldraer, as 'n verspreider.
Hy't nooit die voorreg gehad om die Vrystaat se Cravenweek-span te haal nie en moes tevrede wees met 'n plek in die Vrystaatse Kiewiete-span.
Hy wou so graag soos sy groot held, André Venter, groot rugby speel! André Venter was vir hom 'n rolmodel.Skaars twee jaar ná sy matriekjaar aan JBM het hy sy eerste treë na hoër louere gegee toe hy die SA Onder21-span gehaal het.
Juan het sy provinsiale debuut op 26 April 2002 in 'n Vodacombeker-wedstryd as agtsteman teen die Pumas in Witbank gemaak toe hy 'n beseerde Tokkie Kasselman vervang het. Daarna moes hy gereeld meeding met Springbokke soos Hendro Scholtz, André Venter en Johan Erasmus om 'n plek langs die kant van die Vrystaat-skrum.
In 2003 het sy Super12- en toets verpligtinge verhoed dat hy 'n enkele wedstryd vir die Vrystaat gespeel het. Teen die einde van die 2003-seisoen het hy reeds 10 toetse agter die blad gehad, teenoor sy 10 Vrystaat-wedstryde. Hy was lid van die Springbok-span na die Wêreldbeker-toernooi in Australië.'n Dyspierbesering het sy loopbaan tydelik in 2004 in die wiele gery.
In 2005 was hy gereeld lid van die Katte se span in die Super12-kompetisie, asook van die Springbok-span in die Drienasie-reeks. Dit was op 2005 se toer in Argentinië, Wallis en Frankryk dat Juan hom as die Bokke se permanente nommer 7-toetsflank gevestig het.
Juan se hande is groot - groot genoeg om die bal in die een hand stewig vas te vat en met die ander hand die teenstanders af te stamp.Hy bied met sy spel - hy speel 'n barshou met die bal onder die arm, in die lynstane, met sy lakwerk en as 'n baljagter - sommer heelwat opsies aan sy afrigters.Juan is 'n geduldige mens van nature, wat vir sy medemens omgee, en hy's baie lief vir die natuur en vir visvang.
Sy groot lewensfilosofie is “om altyd in jou drome en ideale te volhard, nooit moed op te gee nie, ongeag die beproewinge wat op jou pad kom''.''My gebed was om my droom uit te leef, en dit wás om my land op die rugbyveld te verteenwoordig.''
Sy rugby-filosofie is dat sy span goed sál speel, as hy persoonlik self presteer. 'n Leier van die trop dus, wat met voorbeeld lei - én dan praat.Juan het al verskeie terugslae in sy sportloopbaan beleef, maar hy't telkens met 'n veggees eie aan hom, die stang stewig vasgebyt, homself bewys en wéér bo-uit gekom.
Ondanks groot aanbiedinge, deur onder andere die Haaie en die Leeus, het Juan besluit om’n Vrystater te bly. Hy is beslis een van die lojaalste spelers wat die Vrystaat tot nóg toe gehad het.
“Dit gaan seker ook oor die manier waarop ek grootgemaak is. Ek het nie dinge in die lewe maklik gekry nie en ek sou ook nie anders deur my ouers grootgemaak wou word nie.
“Rugby is deel van my lewe, maar dis nie my lewe nie. My gesin en familie is waaroor die lewe gaan. As ek en my familie gelukkig is, gaan ek ’n gelukkige rugbyspeler wees.”
Hy hoop sy besluit om langer vir die Vrystaat te speel, sal groentjies aanmoedig om dieselfde te doen.
Hoewel sy pa baie streng met hom was, het hy ongelooflike respek en liefde vir dié groot man gehad.Hy sê dit was in die “29 jaar wat hy sy pa geken het” vir hom moeilik om sy emosies aan sy pa te wys. Hoewel sy pa se woord wet was en sy pa “hard op my was”, glo hy dit was deel van sy sukses vandag.
Dié veteraan van 69 toetse, wat die Wêreldbeker-toernooi in 2011 in Nieu-Seeland weens ’n haksening-besering misgeloop, was ook sedertdien op die krukkerlys.
Juan, wat die Springbokke in ‘n wedstryd in 2010 teen die Internasionale Barbarians op Twickenham in Londen aangevoer het, is een van net drie Suid-Afrikaners wat daarmee kan spog dat hy in die wenspanne van die Internasionale Onder20-toernpooi (2002), die Curriebeker-eindstryd (2005), die Wêreldbeker-toernooi (2007) en die Drienasie-kompetisie (2009) gespeel het. Die ander twee manne is Fourie du Preez (Blou Bulle) en John Smit (Haaie), wat toevallig kaptein in al dié reekse was.
Die Vrystaatse rugbyspan is besonder geseënd wanneer dit by losvoorspelers kom, want van die 77 Springbokke wat die Vrystaat sedert 1912-'13 opgelewer het, was nie minder nie as 16 losvoorspelers.
Deur Frikkie van Rensburg