Posted on Saturday, 13 Apr 2019
Vrystaat Rugby bring vanaand hulde aan Bill Troskie met ‘n oomblik van stilte voor die afskop van die Guinness PRO14 wedstryd tussen die Toyota Cheetahs en die Dragons van Wallis.
Bill Troskie is verlede week oorlede nadat hy vir etlike jare Altzheimer se siekte gehad het.
.
DIT is baie jammer dat klubrugby in Suid-Afrika so verval het.
Dit was eens die hartslag van al ons rugby en die Vrystaat se spanne het altyd baie goed in nasionale toernooie gevaar. Die feit dat die Toyota-trofee ’n paar keer staanplek in die Vrystaat gekry het, is bewys van die gehalte van die spel wat die spelers van die Wit Tornado teen die beste van die ander streke gespeel het.
Die man met dié versugting is Bill Troskie, gewese bestuurslid van die Vrystaatse Rugbyunie en voorsitter van die Oud-Greys-rugbyklub wat die nasionale toernooi ’n slag gewen het.
Vandag speel die klub in die Vrystaatse laer ligas.
Atletiekborg
Troskie is ook net so jammer dat atletiek in die Vrystaat ook nie meer daardie groot hoogtepunte bereik soos in die dae toe hy een van die vernaamste borge van atletiek in die middelprovinsie was nie. Die eenuur-byeenkomste, wat in die week gehou is, het van die beste atlete in die land getrek en het ook daarvoor gesorg dat plaaslike uitblinkers soos Zola Budd, Sarina Cronjé, Jaco Reinach en baie ander die hoogste sport bereik het. Dit was nie snaaks om ’n paar duisend toeskouers in die stadion te sien nie. Dit was ook daar dat Jaco Reinach sy Suid-Afrikaanse rekord in die 400 m opgestel het.
Maar hoewel hy een van atletiek se groot borge was, was dit nie die vernaamste sportsoort in Bill se lewe nie. Sy grootste passie was rugby, boks, motorwedrenne en stampkar-wedrenne. Hy was een van die groot organiseerders van stampkar-wedrenne in die land en het toegesien dat die beste jaers van die buiteland ook hier kom deelneem het. En hy was nie bang om self agter die stuurwiel van die vuurwaens in te klim en teen ysingwekkende vaart om die draaie te jaag nie.
Hy sal ook onthou word as die eerste man wat die Springbokstut wyle Martiens le Roux ná sy uittrede weer by die spel betrek het. Die kragman het kom help om die stutte van Oud-Greys se derde span touwys te maak. Martiens het later baie grotes afgerig.
Vroeg al geboks
Maar ons gaan haal die storie heel voor. Bill is op 23 Desember 1934 in Bloemfontein gebore. Sy ouers het op ’n kleinhoewe in Rodenbeck buite Bloemfontein gewoon en sy pa was ’n geesdriftige sportman. Boks was sy gunsteling.
Bill onthou dat hy so vyf jaar oud was toe sy pa, Koos, hom altyd voor op die fiets gelaai het en saam het hulle van Spitskop af na die Masonic-hotel gery waar ’n groot boksklub was. Daar het hy van kleintyd af geleer om te veg.
Van die bekendste boksers in die land het by die klub geboks. Johnny Ralph en Robey Leibbrandt was lede van die klub.
Spoedvraat
Bill vertel dat hy van kleins af in motors en die motorsport belang gestel het. “Daardie gevoel wanneer jy agter die stuurwiel van een van die blitsige voertuie sit en om die draai op die asbaan jaag, kan jy nie beskryf nie. En almal se groot droom is om die beste te klop.”
Die groot kampioen in die asbaan-wedrenne so 30 tot 40 jaar gelede was Doug Wardroper van Brittanje.
“Hy was ’n skitterende jaer en het vreesloos gejaag. Hy het ook van die beste voertuie gebruik.”
“ Sy is meer as net my vrou. Sy is my vennoot en saam het ons gebou aan ons sake in die motorbedryf. Dit is met haar ondersteuning dat ons verskeie motorsake, vulstasies, ’n skrootwerf en ander sake op die been kon kry. ”
- Bill Troskie
Die Brit het ook in die Vrystaat gejaag en Bill het baie ure geoefen om slaggereed te wees vir die groot kragmeting teen die Brit.
Sy ure lange oefenry op die baan het gehelp, want hy het die Engelsman geklop.
Ligte, kamera, aksie!
Bill en sy broer Boet het in 1964 ook die rolprentwêreld betree. Saam met Jamie Uys het hulle hul eerste rolprent die lig laat sien. Die Wonderwêreld van Kammie Kamfer, hul eerste prent, was ’n groot sukses en daarna het hulle verskeie rolprente die lig laat sien. Van hul rolprente word ná ’n paar dekades steeds op televisie in Amerika en Japan vertoon.
Bill is al 58 jaar getroud met Yvonne Gous van De Aar. Sy het as netbal- en tennisspeler uitgeblink.
“Sy is meer as net my vrou. Sy is my vennoot en saam het ons gebou aan ons sake in die motorbedryf. Dit is met haar ondersteuning dat ons verskeie motorsake, vulstasies, ’n skrootwerf en ander sake op die been kon kry.”
In ’n stadium het Yvonne se vulstasie in Fonteinstraat naby die middestad die nasionale prys gewen deurdat dit die meeste brandstof in die land verkoop het.
Verskeie spelers van Oud-Greys het ook in die Troskie-gesin se ondernemings gewerk.
Hulle het een seun, Billy, en ’n kleinseun, Bobby (11), wat baie belofte as rugbyspeler toon. Hulle het ook ’n kleindogter, Bianca (15).
Inligting deur Frikkie van Rensburg