Are you ready for the clash?

Buy your tickets online!

Online Tickets

Vier 120 jaar van Vrystaat Rugby met ‘n Quiz!

Posted on Monday, 20 Jul 2015

Vier 120 jaar van Vrystaat Rugby met ‘n Quiz!

In die aanloop tot die afskop van die Absa Curriebeker sal ondersteuners die kans kry om hulle kennis oor Vrystaat Rugby te toets in ‘n prettige vasvra-aand op die 30ste Julie.  Spanne van vier kan deelneem en ondersteuners wat nie die aand kan bywoon nie, kan deur sosiale netwerke soos Facebook en Twitter saam speel.  Enige iemand wat dink dat hulle ‘n goeie kennis het oor Vrystaat Rugby is welkom om deel te neem.  Kontak Ronel Pienaar by ronel@fsrugby.co.za vir inskrywings of meer inligting oor die geleentheid.

 

 

DIE Vrystaat lewer sedert sy stigting op 27 Maart 1895 in die Hotel Phoenix in Bloemfontein 'n baie groot bydrae tot rugby in die land, én die res van Suid-Afrika behoort veel groter agting, én empatie, te hê vir die werk wat Vrystaatse beamptes en die spelers vir rugby in hierdie sentrale deel tussen die Vaal- en Oranjerivier die afgelope 120 jaar gedoen het.

 

Die Vrystaat is deurlopend die geil teelaarde van Suid-Afrikaanse rugbyspelers, Cheetah-rugby se prestasielys oor dekades is uitstekend én die infrastruktuur in die Vrystaat is baie goed.

 

Die volgende mylpale bevestig Cheetahland se bydrae en suksesse in Suid-Afrikaanse rugby, ondanks die feit dat hy jaar ná jaar tientalle topspelers aan veral die Haaie, Westelike Provinsie, Leeus, die Blou Bulle, Europese, Franse en Japanse klubs afstaan:

 

  • Boetie McHardy, die Vrystaat se eerste Springbok, word op 30 November 1912 in Dublin in ‘n toets teen Ierland die eerste Springbok wat drie drieë in een toets druk.
  • McHardy word op 7 Augustus 1914 teen die Grens op Lord's in Durban die eerste Suid-Afrikaner wat vier drieë in 'n Curriebeker-wedstryd druk.
  • Op 31 Mei 1930 word die Springbokpark-rugbystadion (terrein waar die Medi-Clinic vandag staan) in gebruik geneem.
  • Australië klop Suid-Afrika op 2 September 1933 in die eerste toets ooit in Bloemfontein met 15-4 op Springbokpark.
  • Die Vrystaat-stadion word met 'n wedstryd tussen die Junior Springbokke en die Britse & Ierse Leeus op 14 September 1955 in gebruik geneem.
  • Sakkie van Zyl word op 20 Mei 1967 in 'n vriendskaplike wedstryd teen Wes-Transvaal in Potchefstroom die eerste Vrystater wat in sy 100ste wedstryd vir die Vrystaat speel. Altesame 27 Vrystaters het reeds in 100 of meer wedstryde vir die span gespeel.
  • Die ou Vrystaatse Rugbybond - die Vrystaat-provinsie - ontbind op 6 Februarie 1968 op ‘n vergadering in die Hotel President in Bloemfontein. Vier nuwe rugby provinsies in die geografiese Vrystaat is gestig.
  • Die Vrystaat speel op 22 September 1973 in sy eerste Curriebeker-eindstryd, teen Noord-Transvaal in Pretoria, én verloor met 22-30.
  • Meer as 73 000 toeskouers het die Vrystaat-stadion op 14 Augustus 1976 volgepak vir die tweede toets tussen die Springbokke en die All Blacks. Nieu-Seeland het met 15-9 gewen.
  • Die Vrystaat palm op 25 September 1976 die Curriebeker die eerste keer in deur die WP met 33-16 in die eindstryd in die Vrystaat-stadion te klop.
  • Die Vrystaat klop op 31 Mei 1977 Oos-Vrystaat op Boerbokpark, Senekal, met 132-3.
  • Gerrie Sonnekus (skrumskakel - 1974; agtsteman - 1984) word naas Danie Craven die enigste Springbok wat toetsrugby vir Suid-Afrika in dié twee posisies gespeel het.
  • Mnr. Steve Strydom, wat tussen 1976 en 1993 president van die Vrystaatse Rugbybond was, word op 2 Februarie 1985 met ‘n toets tussen Skotland en Ierland in Edinburg die eerste SA rugbyskeidsregter wat in 'n Vyfnasie-toets in Europa optree.
  • Die Vrystaat-stadion word op 'n middernagtelike byeenkoms op 30 Junie 1990 in die AK Volsteedt-gebou amptelik deur die Bloemfonteinse stadsraad aan die VRU oorgedra.
  • Die herboude Vrystaat-stadion word 10 Mei 1995 die eerste keer aan die publiek bekend gestel. Drie van die WB-wedstryde van 1995 in Suid-Afrika is in dié stadion beslis.
  • Groot vordering is sedert 21 Februarie 1998 op die transformasie-front in Vrystaat-rugby gemaak toe David Wesso (Rooikatte: vleuel) en Christmas Dumazweni (Collegians: flank) die eerste spelers van kleur geword het wat die Vrystaatse senior span in die Vodacombeker-kompetisie verteenwoordig het.
  • Jannie de Beer, die Cheetah-losskakel, se 5 skepdoele op 21 Oktober 1999 in Parys in die WB-kwarteindstryd teen Engeland is die wêreldrekord. SA het 44-21 gewen, en De Beer se 34 punte dié dag is die naasmeeste deur 'n Springbok in 'n toets.
  • Die Vodacom-Cheetahs speel op 4 April 2003 die eerste keer 'n amptelike wedstryd van Sarvu - 'n Vodacombeker-wedstryd teen die Boland-Kavaliers - in die Seisa Ramabodu-stadion in Heidedal.
  • In 2004 het Hanyani Shimange die eerste Vrystaatse speler van kleur geword het, wat sy Springbok-kleure verwerf het. Sedertdien het die Vrystaat 22 Springbokke opgelewer, van wie nege spelers van kleur is: Shimange, Gurthrö Steenkamp, Bevin Fortuin, Kabamba Floors, Ashley Johnson, Raymond Rhule, Trevor Nyakane, Cornal Hendricks en Oupa Mohoje.

Die VRU is pro-aktief besig om met verskeie transformasie-projekte onder alle kleur- én kultuurgroepe rugby te bevorder. Die VRU is ‘n groot rolspeler in die toekoms van die nuwe Suid-Afrika.

  • Ná meer as 12 jaar se harde werk in die vergadersale van SA rugby verkry mnr. Harold Verster, tóé president van die VRU, op 15 April 2005 met sy twee vennote - Griekwaland-Wes en Noord-Vrystaat - die reg om SA se vyfde bedryfsregspan in die vergrote Super14-kompetisie vir die Suidelike Halfrond van die 2006-seisoen af te vorm.
  • Op 22 Oktober 2005 verower die Vrystaat die Curriebeker die tweede keer in sy bestaan van 110 jaar deur die Blou Bulle in die eindstryd in Pretoria met 29-25 te klop.
  • 'n Nuwe era in die Hartland van Suid-Afrika - Griekwaland-Wes, Vrystaat en Noord-Vrystaat - se rugbygeskiedenis breek op 10 Februarie 2006 aan met die eerste wedstryd van die nuwe SA bedryfsregspan, die Cheetahs in die vergrote Super14-kompetisie teen die Bulle in die Vrystaat-stadion. Meer as 30 000 toeskouers het dié wedstryd bygewoon. Dit was die begin van 'n ongelooflike seisoen in Vrystaat-rugby, wat 'n hoogtepunt met die halfeindstryd (klop die Haaie op 7 Oktober met 30-14) en die eindstryd (speel met 28-28 gelykop teen die Blou Bulle op 14 Oktober) in Bloemfontein bereik het.
  • Juan Smith, Springbok-flank van die Cheetahs, word op 15 Augustus 2007 in die eerste toets in die geskiedenis tussen Suid-Afrika en Namibië in Kaapstad die eerste Springbok-voorspeler wat 'n driekuns aan drieë behaal.
  • Die Vrystaat wen op 27 Oktober 2007 die Curriebeker die eerste keer in sy bestaan van 112 jaar 'n derde agtereenvolgende jaar deur die Leeus in die eindstryd in Bloemfontein met 20-18 te klop.
  • In 2013 was die Cheetahspan die enigste in SA wat in die uitkloprondes van die Curriebeker- én die Super15-kompetisie gespeel het.
  • Die Vrystaat het reeds in 13 Curriebeker-eindstryde en 18 Curriebeker-halfeindstryde gespeel. Van die huidige 14 Suid-Afrikaanse rugby-unies het die Cheetahs se Curriebeker-span in die tydperk 1970 tot 2014 naas die Blou Bulle en die WP gemiddeld die beste gevaar.
  • Afgesien van sy welslae in die Curriebeker-reeks het die Vrystaat ook in vyf Lionbeker-eindstryde gespeel en het hy dié gesogte uitklopbeker in 1983 gewen; het die Vrystaat ook in 1996 (Bankfin se Aandbeker), in 2000 die Vodacombeker ingepalm, en ook in 2008 se Vodacombeker-eindstryd gespeel.
  • Negentien voorsitters/presidente het leiding die afgelope 120 jaar gegee. Altesame 1 535 spelers het vir die Vrystaatse senior provinsiale span tussen 1893 en 2014 uitgedraf. én, die VRU het van Boetie McHardy (1912) tot Oupa Mohoje (2014) reeds 83 Springbokke, en sedert John Matthysen (1974) en Ig Prinsloo (2014) reeds 111 SA Skolespelers opgelewer.
  • Drie Vrystaters - Gysie Pienaar (1980), Os du Randt (1997) en André Venter (1999) - was al die SA Rugbyspeler van die Jaar.
  • Die Vrystaat is gereeld onder die top-spanne op die jaarlikse Cravenweek-toernooi (o.18) en dié jong Cheetahs spog naas die WP met die beste rekord van alle spanne sedert die instelling van die toernooi in 1964.
  • Die Shimlas, die eerste rugbyspan van die UV, vorm van die vroegte tye af die kern van die Vrystaatse rugbyspanne. Dié Kovsies het in 1986 en 1999 die nasionale klubkampioenskap gewen én hulle het vanjaar die eerste keer die Varsitybeker verower.
  • Jaco Peyper, ‘n Bloemfonteinse prokureur, het hom die afgelope twee, drie jaar as een van die top-skeidsregters in wêreldrugby gevestig. Hy het onlangs die Super15-eindstryd tussen die Highlanders en die Hurricanes in Wellington, Nieu-Seeland, beheer. Hy sal vanjaar ook wedstryde op die WB-toernooi in Brittanje beheer.
  • Die Vrystaat-stadion word vir internasionale rugby én sokker benut. 'n Nuwe hoofpaviljoen is met die oog op die Wêreldbeker-sokkertoernooi in 2010 in Suid-Afrika aan die westekant van die stadion gebou en nagenoeg 46 000 toeskouers kan in die stadion gehuisves word.
Share this article: