Are you ready for the clash?

Buy your tickets online!

Online Tickets

Tredoux kontrakteer van land se voorste juniors vir Vrystaat

Posted on Thursday, 21 Nov 2013

Tredoux kontrakteer van land se voorste juniors vir Vrystaat

BLOEMFONTEIN. – ’n Groep met hope vaart en vier van die land se opwindendste jong stutte.

Só het André Tredoux, talentwerwer van die Toyota Vrystaat-Cheetahs, sy nuwe gekontrakteerde groep van jonges vir 2014 opgesom.

Twee van die stutte, Ox Nche (Louis Botha) en Conraad van Vuuren (Nelspruit), het vanjaar die Suid-Afrikaanse Skolespan verteenwoordig, terwyl WP Eloff (Affies) en Gunther Janse van Vuuren (Monument) self as van die sterkste skole-skrumwerkers beskou is.

“Ek dink dit is die (Vrystaat se) mees gebalanseerde groep vanaf 2012. Ek is veral opgewonde oor die voorrye,” het Tredoux gesê.

Een van die snellers wat gekontrakteer is, is Grey-kollege se veelsydige agterspeler Henry Immelman wat tot einde 2016 ’n Vrystater bly. Sommige kenners voorspel dat hy in net so ’n opwindende agterspeler soos sy skoolmaat EW Viljoen kan ontwikkel.

Viljoen sluit hom egter later vanjaar by die Westelike Provinsie aan. Volksblad het ook vroeër berig dat Grey se kaptein en flank, Marius Louw, asook die stutte, Ruan Kramer en Andrew du Plessis, einde vanjaar Haaie word.

Immelman is een van verskeie plaaslike sterre van skole soos Louis Botha, Sentraal, Jim Fouché, Voortrekker Bethlehem, Duineveld en Fichardtpark wat junior Vrystaat-kontrakte gesluit het.

Tredoux het gesê die Kovsies en Sentrale Universiteit vir Tegnologie (SUT) het sy onderhandelingsproses met die jonges vergemaklik.

“Ek is seker dat verskeie ander goeie spelers (wat nie kontrakte gekry het nie) in 2014 by die Kovsies of SUT sal studeer.”

Die Vrystaat se gekontrakteerde groep van jonges is:

Stutte: WP Eloff (Affies), Ox Nche (Louis Botha, SA Skole), Gunther Janse van Vuuren (Monument), Conraad van Vuuren (Nelspruit, SA Skole), Johan Kotzé (Grey-kollege).

Hakers: Heinrich de Jongh (Garsfontein), Ryno Gerber (Sentraal), Morné de Beer (Fichardtpark), Reinach Venter (Waterkloof).

Slotte: Erik van Niekerk (Ben Vorster), SJ Roux (Boland Landbou), Casper Fourie (Grey-kollege), Hendri Storm (Outeniqua), Johan Grundlingh (Transvalia).

Flanke: Jandré Slabbert (Affies), Junior Burger (Duineveld), Willandré Kotzenberg (HTS Middelburg), Daniel Maartens (Nelspruit), Rafuoe Rampete (Louis Botha, SA Skole).

Agtstemanne: Andries Kriek (Grey-kollege), Jasper Wiese (Upington), Nardus Erasmus (Waterkloof).

Skrumskakels: Christiaan Erasmus (Nelspruit), TJ Goddard (Tygerberg).

Losskakels: Ruan Potgieter (EG Jansen), André Swarts (Grey-kollege).

Senters: Carel Durow (Grey-kollege, SA 7’s), Stephen Rautenbach (Grey-kollege), Carel Jan Coetzee (Jim Fouché), Wiehann van der Watt, Junior Smit (albei Bethlehem Voortrekker).

Vleuels: Ethan Sias (Garsfontein), Johan Nel (Grey-kollege), Lorenzo Gordon (Oakdale), Arno van Staden (Pietersburg), Henry Immelman (Grey-kollege).

Heelagters: Corné Vermaak (Glenwood), Sechaba Matsoele (Voortrekker), Gerrie Labuscaghné (Die Anker, SA 7’s).

Share this article: