Posted on Tuesday, 22 Jan 2013
Die Vrystaat- en die Leeus rugby unies het opnuut bande gesmee en op onderlinge samewerking ooreengekom.
Tydens ‘n gesprek tussen mnr. Lindsay Mould, President van die Vrystaatse Rugby-unie, mnr. Harold Verster, Besturende Direkteur van die Toyota Vrystaat Cheetahs (Edms.) Bpk. en mnr. Kevin de Klerk, President van die Leeus in Johannesburg is moontlike ongelukkighede en onsekerhede en ook toekomstige samewerking bespreek.
Die samespreking het op ‘n baie openhartige en aangename wyse plaasgevind en dit was soos twee ou rugby vriende wat met mekaar kon gesels het oor onsekerhede en die pad vorentoe.
Die Vrystaters het aan Mnr. De Klerk hulle situasie gestel rondom onlangse gebeure en dat hulle steeds die Leeus ondersteun soos ooreengekom is. Mnr. De Klerk het die Toyota Vrystaat Cheetahs se standpunt onvoorwaardelik aanvaar en onderneem om eersdaags Bloemfontein te besoek om ook sy goedgesindheid teenoor hierdie provinsie te betoon.
Die ongemaklikhede van die voormalige streekspan, die Cats is ook in diepte bespreek. Daar is verwys na ‘n tyd toe Vrystaat swaar getrek het in hierdie bedeling en daar is besef dat hierdie stelsel van samesmelting tussen die Leeus en die Toyota Vrystaat Cheetahs as die Cats nie prakties is nie en dat die twee unies mekaar op die pad vorentoe beter op ander wyses sal ondersteun en bystaan.
Die Toyota Vrystaat Cheetahs speel eerskomende naweek teen die Leeus op Ellispark en dit sal die begin wees van bande smee op die pad vorentoe.