Free State Rugby - Since 1895

Buy your tickets online!

Online Tickets

Toyota Cheetah Bulletin 38

Posted on Thursday, 13 Nov 2014

Toyota Cheetah Bulletin 38

Cheetahland verdien groter agting van SA rugby

 

Die Vrystaat lewer sedert sy stigting op 27 Maart 1895 'n baie groot bydrae tot rugby in die land, én die res van Suid-Afrika, asook die erge kritici die afgelope tyd ná die Toyota Cheetahs se swak Super14- en die Toyota Vrystaat-Cheetahs se vyfde plek in die Curriebeker-kompetisie, behoort veel groter agting, én empatie, te hê vir die werk wat mnr. Harold Verster, besturende direkteur van die Cheetahs-maatskappy, en mnr. Lindsay Mould, president van die VRU, en hul bestuurspan vir rugby in dié streek tussen die Vaal- en Oranjerivier gedoen word.

 

Mnr. Mould is gisteraand op die jaarvergadering van die VRU in die Vrystaat-stadion vir ‘n tweede ampstermyn as President herkies.

 

Van die groot unies is dit net die Haaie en die Cheetahs wat tussen 1994 en 2014 van alle Suid-Afrikaanse spanne nooit laer as vyfde in die Curriebeker-kompetisie geëindig het nie. Die Leeus (1998: 8ste), WP (1999: 11de) en die Blou Bulle (2000: 10de; 2001: 7de) het 'n keer of wat kwaai uitgesak. Met die aankope van veral top-spelers uit Sentraal-Suid-Afrika het die Leeus, die Bulle en die WP hul spanne aansienlik aangevul om dan in die volgende seisoene weer spiere te bult.

 

Die Haaie (17), Cheetahs (15), Leeus (15), WP (14) en die Bulle (13) het in die tydperk tussen 1996 en 2014 die halfeindstryd gehaal. Dat die Cheetahs dikwels in die halfeindstryd of in 'n eindstryd gespeel het en min welslae behaal het, kan grootliks gewyt word aan die feit dat die Vrystaters élke seisoen baie spelers aan die groot unies moet afstaan en dat 'n gebrek aan grootwedstryd-temperament hulle dan in kritieke stadiums van 'n halfeindstryd en 'n eindstryd sukses gekos het.

 

*Nét die WP (259), Leeus (163) en die Blou Bulle (109) het deur die jare meer Springbokke as die Vrystaat (83) opgelewer. Die Haaie (79) en Griekwas (63) het ook meer as 60 Springbokke opgelewer.

*Die provinsiale skolespanne van die Vrystaat is gereeld onder die top-spanne op die jaarlikse Cravenweek-toernooi (o.18) en dié jong Cheetahs spog saam met die WP met die beste rekord van alle spanne sedert die instelling van die toernooi in 1964. Grey-kollege se Onder18-span was vanjaar die top-skolespan in die land.

*Die meeste van die belowende spelers gaan vir verdere náskoolse studie na die Universiteit van die Vrystaat of die Sentrale Universiteit vir Tegnologie. Die Shimlas, die eerste rugbyspan van die UV, vorm van die vroegte tye af die kern van die Vrystaatse rugbyspanne.

*Die Vrystaat-stadion in Bloemfontein - wat vir rugby en sokker benut word - bied sitplek aan nagenoeg 46 000 toeskouers. Die spreiligte is ook tot 1 500 lux (ligeenheid) verbeter. Die stadion is ook toegerus met 'n kragsentrale wat in enige kragonderbreking gebruik kan word. Toetse van die Springbok-rugbyspan en die Bafana Bafana-sokkerspan word gereeld met groot welslae in die Vrystaat-stadion aangebied.

*Negentien voorsitters – deesdae president - het leiding die afgelope 119 jaar gegee; altesame 1 537 spelers het al vir die Vrystaatse senior provinsiale span uitgedraf; die Vrystaat het al 13 keer in die Curriebeker-eindstryd gespeel en die Goue Beker al vier keer ingepalm; die Vrystaat het in vyf Lionbeker-eindstryde gespeel en het dié gesogte uitklopbeker in 1983 gewen; die Cheetahs het ook in 1996 (Bankfin se Aandbeker) en in 2000 (Vodacombeker) ingepalm, en in 2008 se Vodacombeker-eindstryd gespeel

 

Prestasies, ondanks …………..

 

Die Toyota Cheetahs het dus vanjaar moontlik nie ‘n té wafferse Super- en Curriebeker-seisoen gehad nie, maar die feit dat agt spelers wat in 2014 in Sentraal-Suid-Afrika vir dié spanne uitgedraf het in die Springbok-toerspan van 36 lede vir die einde-van-die-jaar-toer in Brittanje en Italië gekies is, is oudergewoonte ‘n bewys watter gróót rol Cheetah-land stééds in Suid-Afrikaanse rugby speel.

 

Én dít nadat die Toyota Cheetahs in 2013 die enigste onder die SA spanne was wat in die Super15 die uitklopronde – TOP6 - én die Curriebeker-halfeindronde gehaal het, want die Bulle, wat in die Super15 saam met die Cheetahs in die Top6 was, het nie in die Curriebeker-halfeindronde gespeel nie!!!

 

Die agt Bokke wat vanjaar nog vir die Cheetahs uitgedraf het, en tans op toer in Brittanje is: Lood de Jager, Johan Goosen, Cornal Hendricks, Willie le Roux, Oupa Mohoje, Trevor Nyakane, Coenie Oosthuizen en Adriaan Strauss.

 

Daarbenewens was nege ander lede van die Springbok-toerspan in Brittanje vroeër in hul loopbane in Bloemfontein op skool, óf het vir die Vrystaat en/óf vir ‘n Bloemfonteinse klub gespeel: Bismarck en Jannie du Plessis, Ruan Pienaar (Grey/UV/VS), Cobus Reinach, Jan Serfontein (Grey), Gurthrö Steenkamp (UV/VS), Morné Steyn (Sand du Plessis), Duane Vermeulen (Collegians/VS) en Seabelo Senatla (SUT/VS onder 19 en Onder 21).

 

Dan het twee beseerde Springbokke, wat nie vir die toer oorweeg is nie – Flip en Marcel van der Merwe (UV/VS) – ook voorheen in die Vrystaat gespeel. Flip van der Merwe was op Grey op skool.

 

Só is daar dus 11 Vrystaters en oud-Vrystaters wat Saterdag 15 November in die Bokke se tweede van vier Europese toetse teen Engeland opTwickenham speel.

 

….. ander prestasies

 

Grey - Die eerste span van Grey-kollege in Bloemfontein het die 2014-seisoen as die top-skolespan in Suid-Afrika afgesluit nadat hy op Saterdag 23 Augustus met Paul Roos-gimnasium in Bloemfontein met 25-20 afgereken het. Paul Roos beklee die tweede plek op dié lysie van voorste skole in die land.

 

Vroue – Die Vrystaastse se vrouespan het vanjaar die Interprovinsiale A2-afdeling egfwen deur Boland in die eindstryd in Oos-Londen met 34-0 te klop.

 

SUT – In 2013 en 2014 het die SUT die Varsity-skildkompetisie gewen en is gepromoveer om in 2015 in die Varsitybeker-reeks te speel. Die Vrystaat is saam met WP (US en UK) die enigste unie wat twee spanne in die Varsitybeker-kompetisie het.

 

Hoewel die Shimlas vanjaar ook nie so waffers in die Varsitybeker-reeks gevaar het nie, het hulle nogtans ‘n goeie gelykop-uitslag teen die Maties (13-13) in Stellenbosch afgedwing. Die Shimlas dra swaar aan verteenwoordiging in al die Vrystaat-spanne en eindig vanjaar vyfde in die Varsitybeker-kompetisie. Tientalle Kovsies speel elders in die land provinsiale rugby. Nege Shimlas en drie SUT-spelers was in die Griffons se span wat die Eerste Liga van die Curriebeker-kompetisie gewen het.

 

Onder 19 – Die Vrystaat se Onder19-span het die halfeindronde gehaal. Sedert 2000 beklee dié Cheetah-span algeheel die vierde plek.

 

Onder 21 – Die Vrystaat se Onder21-span het die halfeindronde gehaal.

 

Vodacombeker – Die Vrystaat XV – soos dié span van die Cheetahs in die Vodacombeker-kompetisie genoem word - het die kwarteindronde gehaal en is toe deur die Blou Bulle met 22-21 geklop, ondanks die feit dat die Vrystaters twee drieë teenoor een van die Bulle gedruk het.

Die Vrystaat het naas die Blou Bulle algeheel die naasbeste sedert 2000 in die Vodacombeker-reeks gevaar.

 

Curriebeker – Die Toyota Vrystaat-Cheetahs het vanjaar ‘n nuwe afrigtingspan onder mnr. Rory Duncan, ‘n nuwe kaptein, Torsten van Jaarsveld, gehad, en 17 van die 39 spelers – onder wie 17 nuwelinge – is gekies om in die Toyota Vrystaat-Cheetahs se 10 Curriebeker-wedstryde uit te draf.

 

Net ses manne – Willie du Plessis (losskakel), Neil Claassen, Tienie Burger (flanke), Francois Uys (slot), Torsten van Jaarsveld (haker en kaptein) en JP du Plessis (veelsydige agterspeler) – het in al 10 Curriebeker-wedstryde gespeel.

 

Die Cheetahs het weliswaar vanjaar vyfde geëindig, maar het sedert 2000 algeheel derde ná die Haaie en die WP gevaar – die Vrystaat-Cheetahs was die Curriebeker-kampioen in 2005, 2006 en 2007.

 

Skeidsregters - Die Vrystaat het drie uiters knap internasionale/toetsskeidsregters - Jaco Peyper, Lourens van der Merwe en Marlize Jordaan – wat aldrie vanjaar wêreldwyd opgetree het.

 

Jaco het die Super-halfeindstryd tussen die Waratahs, wat vanjaar bo-aan die puntelys geëindig het, en die Brumbies, ‘n tweemalige kampioen – beheer. Dit was Jaco se 48e Super-wedstryd as skeidsregter sedert hy in 2009 die eerste keer in die groot kompetisie begin blaas het. Die 34-jarige Jaco het in 2013 in die Super-kwarteindstryd tussen Crusaders en Reds in Christchurch geblaas.

 

Jaco (Elite-paneel), Lourens van der Merwe (Nasionale A-paneel), Jaco Kotze (Nasionale B-paneel), Khotso Raleting (Aanspraakmaker-groep) en Siyanda Belinda Ketse (Vroue) is in die verskillende panele van die SA Rugbyskeidsregtersvereniging vir die 2015-seisoen aangestel.

 

Én, afgesien van die strome Vrystaatse talent wat ons rugbyvelde vol gespeel het, het 34 manne, wat voorheen hul rugby in Bloemfontein gespeel het, vanweë die sterker Euro, Britse pond en die Japanse Jen in die buiteland hul rugbyloopbane gaan voortsit, onder andere Springbokke soos Meyer Bosman (Stade Francais, Frank), Heinrich Brüssow (Docomo Red Hurricanes, Japan), Michael Claassens (Bath, Engeland), Wian du Preez (Munster, Ierland), Johan Goosen (Racing Metro, Frank), Ashley Johnson (London Wasps, Engeland), Ruan Pienaar (Ulster, Ierland), Juan Smith (Toulon, Frank), Gurthrö Steenkamp (Toulouse, Frank), Morné Steyn (Stade Francais, Frank) en Marco Wentzel (London Wasps, Engeland).

 

Transformasie

 

Dit het die afgelope paar maande behoorlik in die Suid-Afrikaanse rugbygemeenskap gegons nadat ‘n dokument van 91 bladsye van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) bekend geword het waarin Saru-voorskrifte in SA rugby se nuwe Strategiese Transformasieplan – die omvattendste en radikaalste kwota-bloudruk in die geskiedenis van dié sport - uitgestippel word.

 

Saru se rasseteikens tot 2019 op skole-, provinsiale, franchise- én nasionale vlak word hierin uiteengesit.

 

Tot watter mate transformasie in Vrystaat-rugby reeds gevorder het, blyk duidelik uit die feit dat die volgende nege spelers van kleur in 2014 vir die Toyota Cheetahs in die Super-kompetisie uitgedraf het: Raymond Rhule, Rayno Benjamnin, Elgar Watts, Caylib Oosthuizen, Trevor Nyakane, Oupa Mohoje, Cornal Hendricks, Hilton Roberts en Howard Mnisi.

 

Altesame 35 spelers het in 2013 vir die Toyota Vrystaat-Cheetahs in die Curriebeker-kompetisie gespeel, van wie nege - Rayno Benjamin, Raymond Rhule, Elgar Watts, Trevor Nyakane, Oupa Mohoje, Freddie Ngoza, Caylib Oosthuizen, Davon Raubenheimer en Kevin Luiters - spelers van kleur was.

 

Én in 2014 was daar onder andere die volgende 12 spelers van kleur in die Toyota Vrystaat-Cheetahs oefengroep: Rayno Benjamin, Clayton Blommetjies, Mapu Dolo, Cornal Hendricks, Cameron Jacobs, Vincent Jobo, Oupa Mohoje, Freddie Ngoza, Trevor Nyakane, Caylib Oosthuizen, Raymond Rhule en Elgar Watts.

 

Hanyani Shimange (haker) het op 6 November 2004, in 'n toets teen Wallis in Cardiff, die eerste Vrystater van kleur geword, wat sy Springbok-kleure verwerf het. Hy was die Vrystaat se 63e Springbok sedert Boetie McHardy (1912).

 

Sedert Shimange het die Vrystaat nóg 19 Springbokke opgelewer, van wie die volgende 8 spelers Gurthrö Steenkamp (2004), Bevin Fortuin (2006), Kabamba Floors (2006), Ashley Johnson (2009), Raymond Rhule (2012), Trevor Nyakane (2013), Cornal Hendricks (2014) en Oupa Mohoje (2014) spelers van kleur was.

 

Dit beteken dus dat nege van die Vrystaat se laaste 20 Springbokke – 45% dus - spelers van kleur is. Trouens, van die 43 Springbokke wat vanjaar reeds vir Suid-Afrika gespeel het, was 10 spelers van kleur, en vier van dié Bokke het as Vrystaters Springbok geword: Hendricks, Mohoje, Nyakane en Steenkamp.

 

VRU-bekerwenners - 2014

 

Stadsbeker – Shimlas.

Rowanbeker – Irawas (UV).

Presidentliga A – Wes-kollege (UV).

Presidentliga B – Tjisas (SUT).

Tweede Liga A – Steyners 1.

Tweede Liga B – Polisie II.

Derde Liga A – Collegians III.

Derde Liga B – Oud-Greys II.

Kloppersbeker (Derde Liga B) – Oud-Greys II.

George Nel-beker (Subunie) –Eur-Africans.

Human Auto-beker (Subunie) – Aliwal Buffels.

Boetie Steenkamp-beker (Subunie-plaat) – Venterstad Stoele.

M & B-skild – Venterstad Rovers

Vrystaat-uitdaagbeker – Polisie.

Senior Speler met Meeste Opgang – Tienie Burger (UV).

Senior Speler Meeste drieë – Markus Odendaal (UV).

Senior Speler Meeste Punte – Duan Preorius (SUT).

Junior Speler Meeste Opgang – Johnny Barnard (Steyners).

Junior Speler Meeste Drieë – Donovan Loser (SUT).

Junior Meeste Punte – Bennie Gouws (SUT).

Joe Venter-beker (Klubspeler van die Jaar) – Randall Nelson (Crusaders).

Vrouespeler van die Jaar – Merriam Nthlafu.

Vroue-sewesspeler van die Jaar – Lindiwe Masole.

Vroue-speler Meeste Opgang – Willmerick Manual.

Johan Botes-beker (Sekretaris/Klubbeampte van die Jaar) – Rocky le Roux (UV).

HW van Niekerk-beker (Afrigter-s van die Jaar) – Jan du Toit, Skillie Bester (SUT).

Onder 21-speler van die Jaar – Carl Jan Coetzee.

Waardevolste Speler van die Jaar – Hennie Schalk Theron.

 

Uitslae van die Klubeindstryde - 2014

 

Stadsbeker – Shimnlas (UV) klop UV (o.23) 33-29.

Rowanbeker – Irawas (UV) klop Polisie 59-25.

Presidentliga A – Wes-kollege klop SUT (o.21) 23-20.

Presidentliga B – Tjisas wen – Oos-Kollege onttrek.

Tweede Liga A – Steyners I klop SUT Jongspan 28-19.

Tweede Liga B – Polisie II klop Collegians II 40-7.

Derde Liga A – Collegians III klop Shawas (SUT) 31-21.

Derde Liga B – Oud-Greys II klop Mangaung II 26-7.

 

Willie le Roux een van die IRR-spelers van die Jaar

 

Player of the Year nominees revealed

Dié vyf internasionale spelers wat deur ‘n paneel beoordelaars aangewys is, uit wie die Internasionale Speler van 2014 aangewys sal word. Van links is: Jonathan Sexton, Ierse losskakel; Willie le Roux, Springbok-heelagter; Brodie Retallick, All Black-slot; Duane Vermeulen, Bok-agtsteman; én, Julian Savea, All Black-vleuel.

 

Die vyf benoemdes is van drie lande – Ierland (1), Suid-Afrika (2) en Nieu-Seeland (2).

 

Die paneel internasionale beoordelaars was onder die voorsitterskap van John Eales, Wallaby-kaptien wat in 1999 die Wêreldbeker ingepalm het. Die ander beoordelaars is: Will Greenwood (Eng), Gavin Hastings (Skot), Raphaël Ibanez (Frank), Francois Pienaar (SA), Agustín Pichot (Arg), Scott Quinnell (Wallis), Tana Umaga (NS) en Paul Wallace (Ier).

 

Die Internasionale Speler van die Jaar is een van die 12 kategorieë wat jaarliks sedert 2001 deur die IRR vereer word: Afrigter van die Jaar; Span van die Jaar; Vrouespeler van die Jaar; Sewesspeler van die Jaar; Vroue-sewesspeler van die Jaar; Junior Speler van die Jaar.

 

Die lysie Internasionale Spelers van die jaar sedert 2011, is: 2013 – Kieran Read (NS); 2012 – Dan Carter (NS); 2011 – Thierry Dusautoir (Frank); 2010 – Richie McCaw (NS); 2009 – Richie McCaw (NS); 2008 - Shane Williams (Wal); 2007 – Bryan Habana (SA); 2006 – Richie McCaw (NS); 2005 – Dan Carter (NS); 2004 – Schalk Burger (SA); 2003 – Jonny Wilkinson (Eng); 2002 – Fabien Galthié (Frank); 2001 – Keith Wood (Ier).

 

SA steeds 2e, maar Aussies, Rose

en Iere kruip nader

 

Nieu-Seeland (93.70) verbeter sy posisie as die nommer 1-rugbyland ter wêreld weekliks, die wisselvallige Springbokke (89.02) is steeds tweede, maar Australië (3de – 85.44), Engeland (4de – 85.12) en Ierland (5de – 84.84) haal algaande in.

 

Australië het van die vierde na die derde plek geklim nadat hy die Rooi Drake van Wallis in Cardiff die tiende opeenvolgende keer geklop het. Engeland het ná sy nederlaag met 21-24 teen Nieu-Seeland van die derde na die vierde plek uitgesak.

 

Die drie grotes van die Suidelike Halfrond – Nieu-Seeland, Suid-Afrika én Australië – is dus nou wéér in die drie top-plekke op die ranglys van die Internasionale Rugbyraad (IRR).

 

Nieu-Seeland kan met sy komende wedstryd Saterdag teen Skotland – wat vanjaar slegs met seges oor Italië (21-20), VSA (24-6), Kanada (19-17) en Argentinië (21-19 en 41-31) spog – sy nommer1-posisie verder verstewig.

 

Én, dit was so hitette of Ierland het by Engeland en Australië tot in die derde plek opgeskiet, maar JP Pietersen, Springbok-regtervleuel, se troosdrie in die 80e min. teen die Iere in Dublin het dié Ierse droom gekelder. Ierland was laas in 2003 derde op die IRR-ranglys. Slegs 0.60 punte skei Australië, Engeland en Ierland

 

Maar dit was nie slegs Australië, wat van vierde na derde plek gevorder het nie. Die Franse het selwers met hul sege van 40-15 oor Fidji van 7de tot die 6de plek geklim. Teddy Thomas (vleuel) het in sy debuuttoets drie drieë gedruk – sy eerste ná 42 sek. ná die afskop in in die wedstryd – die 10de vinnigste toetsdrie tot nog toe en die vinnigste wat ‘n speler in sy eerste toets sy eerste toetsdrie gedruk het!

 

Samoa en Argentinië se nederlae Saterdag het Japan, wat 11de was, die kans gegee om weer in die top10-groep tot in die 9de posisie op te skuif.

 

Die VSA, wat Roemenië met 27-17 geklop het, het van 18de na 16de plek gevorder. Tonga (13de) en Kanada (17de), wat onderskeidelik met Georgië (23-9) en Namibië (17-13) afgereken het, maar hul posisies is onveranderd.

 

Die nuutste IRR-wêreldranglys soos die afgelope Dinsdag deur die IRR vrygestel, is (met die spanne se vorige ranglysposisie en punte tussen hakies):

 

1(1) Nieu-Seeland 93.70 (93.15); 2(2) Suid-Afrika 89.02 (90.41); 3(4) Australië 85.44 (84.53); 4(3) Engeland 85.12 (85.68); 5(5) Ierland 84.84 (83.44); 6(7) Frankryk 80.25 (80.01); 7(6) Wallis 79.78 (80.70); 8(8) Skotland 78.27 (77.75); 9(11) Japan 75.63 (75.63); 10(10) Argentinië 75.45 (75.97); 11(9) Samoa 75.11 (76.35); 12(12) Fidji 74.34 (74.58), 13(13) Tonga 73.89 (72.83); 14(14) Italë 72.16 (70.92); 15(15) Georgië 69.40 (70.46); 16(18) VSA 68.71 (67.30); 17(17) Kanada 67.92 (67.77); 18(16) Roemenië 67.01 (68.42); 19(19) Uruguay 63.58 (63.58); 20(20) Rusland 63.54 (62.29); 21(21) Spanje 60.65 (60.65); 22(22) Namibië 59.11 (59.26); 23(23) Portugal 59.11 (57.73); 24(25) Korea 57.22 (57.22); 25(24) Hongkong 56.38 (57.63).

 

Afgelope naweek se uitslae/puntemakers

 

Dit gebeur nie baie nie dat spanne van die Noordelike Halfrond in ‘n naweek soos die afgelope in die algemeen beter as die Suid-spanne vaar. In die agt internasionale wedstryde tussen Noord en Suid het die Noorde vyf van dié wedstryde gewen en die Suide drie.

 

Die twee “groepe” het só gepresteer:

 

Noord (5) – Ierland klop Suid-Afrika 29-15 in Dublin; Skotland klop  Argentinië 41-31 op Murrayfield; Frankryk klop Fidji 40-15 in Marseilles; Kanada klop Namibië 17-13 in Colwyn Bay; en, Italië klop Samoa 24-13 in Ascoli.

 

Suid (3) – Nieu-Seeland klop Engeland 24-21 op Twickenham; Australië klop Wallis 33-28 in die Millennium-stadion; én, Tonga klop Georgië 23-9 Tbilisi.

 

Die toetsuitslae en puntemakers die afgelope naweek:

 

Parc Eirias, Colwyn Bay, Wallis: Kanada 17 (drieë: Nayak Dala; straf: Gordon Rorie 4); Namibië 13 (drie: Jacques Burger; doel: Theuns Kotze; straf: Kotze 2).

 

Tokyo  - Japan 18 (drieë: Akihito Yamada, Strafdrie; doel: Ayumu Goromaru; straf: Goromaru 2); Nieu-Seelandse Maori’s 20 (drieë: Codie Taylor, Nehe Milner-Skudder, Dan Pryor); doel/straf: Ihaia West).

 

Tbilisi  - Georgië 9 (straf: Merab Kvirikashvili 3); Tonga 23 (drieë: Taniele Moa 2, Vungakoto Lilo; doel: Latiume  Fosita; straf: Kurt  Morath 2).

 

Stadio Cino e Lilio Del Duca in Ascoli - Italië 24 (drieë: Simone Favaro,Sergio  Parisse; doel: Kelly Haimona; straf: Haimona 4); Samoa 13 (drie: Jack Lam; doel: Ken Pisi; straf: Pisi 2).

 

Twickenham, Londen – Engeland 21 (drieë: Jonny May, Strafdrie; doel: Owen Farrell; straf: Farrell 3); Nieu-Seeland 24 (drieë: Aaron Cruden, Richie McCaw, Charlie Faumuina; straf: Cruden 2, Beauden Barrett).

 

Millennium-stadion, Cardiff - Wallis 28 (drieë: Rhys Webb, Alex Cuthbert, Alun-Wyn Jones, Strafdrie; doel: Leigh Halfpenny 2, Dan Biggar, Rhys Priestland); Australië 33 (drieë: Israel Folau 2, Tevita Kuridrani; doel/straf:  Bernard Foley 3; skep: Foley).

 

Boekarest -  Roemenië 17 (drieë: Strafdrie, Daniel Carpo; doel: Florin Vlaicu 2; straf: Vlaicu); VSA 27 (drieë:  Taku Ngwenya, Tim Stanfill, Folau Niua; doel: Adam Siddall 3; straf: Adam Siddall; skep: Mike Petri).

 

Marseilles - Frankryk 40 (drieë: Teddy Thomas 3, Pascal Papé, Wesley Fofana; doel: Camille Lopez 2, Rory Kockott; straf: Lopez 3); Fidji 15 (drieë: Alipate Ratini, Timoci Nagusa; doel/straf: Nemani Nadolo).

 

Aviva-stadion, Dublin – Ierland 29 (drieë: Rhys Ruddock, Tommy Bowe; doel: Jonathan Sexton 2; straf: Sexton 4, Paddy Madigan); Suid-Afrika 15 (drieë: Marcel Coetzee, JP Pietersen; doel/straf: Handré  Pollard).

 

Murrayfield – Skotland 41 (drieë: Richie Gray, Jonny Gray, Sean Maitland,Stuart  Hogg, Tommy Seymour; doel: Greig  Laidlaw 4, Duncan Weir; straf: Laidlaw 2); Argentinië 31 (drieë: Ortego Desio, Strafdrie, Tomas Cubelli 2; doel: Nicolás Sanchez, Juan Martín Hernandez 3; straf: Sanchez).

 

Komende naweek se internasionale

bepalings en beamptes

 

Suid-Afrika (2 – 89.02) op Twickenham in Londen teen Engeland (4 – 85.12) én Australië (3 – 85.44) teen Frankryk (6 – 80.25) in Stade de France in Parys is waarskynlik dié kragmetings wat die komende naweek die grotoste belangstelling gaande maak.

 

Die spanne se wêreldranglys, soos eergister deur die Internasionale Rugbyraad vrygestel is, word tussen hakies gegee:

 

 

Môre

 

Stade de la Rabiner, Vannes – Samoa (11) teen Kanada (17): SKEIDSREGTER: George Clansy (Ier).

 

Stade Felix Mayol, Toulon – Franse Barbarians teen Namibië (22): SKEIDSREGTER: Leighton Hodges (Wal).

 

Saterdag

 

Millennium-stadion, Cardiff – Wallis (7) teen Fidji (12): SKEIDSREGTER: Pascal Gauzere (Frank).

 

Twickenham, Londen – Engeland (4) teen Suid-Afrika (2): SKEIDSREGTER: Steve Walsh (Aus).

 

Stadio Ferraris, Genoa – Italië (14) teen Argentinië (10): SKEIDSREGTER: Craig Joubert (SA).

Kingsholm, Gloucester – Tonga (13) teen VSA (16): SKEIDSREGTER: Mike Fraser (NS).

 

Murrayfield, Edinburgh – Skotland (8) teen Nieu-Seeland (1): SKEIDSREGTER: Romain Poite (Frank).

 

Stade de France, Parys – Frankryk (6) teen Australië (3): SKEIDSREGTER: Nigel Owens (Wal).

 

Stadionui National Arcul de Truimf, Boekarest – Roemenië (18) teen Japan (9). SKEIDSREGTER: Stuart Berry (SA).

 

Hongkong-stadion, Hongkong – Hongkong (25) teen Rusland (20): SKEIDSREGTER: Shuhei Kubo (Japan).

 

Sondag

 

Aviva-stadion, Dublin – Ierland (5) teen Georgië (15): SKEIDSREGTER: JP Doyle (Eng).

 

Wêreldbeker-vertoningslys

 

Namibië (22), saam met Suid-Afrika Afrika se enigste deelnemer aan 2015 se WB-toernooi in Engeland, is van die 20 deelnemers die laagste op die nuutste IRR-ranglys. Dis verder interessant dat Namibië die enigste voornemende deelnemer in 2015 wat nog nooit ‘n WB-wedstryd kon wen nie.

 

Trouens, Namibië, wat die komende naweek teen die Franse Barbarians in die Stade Felix Mayol in Toulon speel, het ál 15 sy WB-wedstryde tot dusver verloor en sy gemiddelde wedstrydtelling is 65-10!

 

Die vertoningslys van die 25 lande wat tot dusver aan die WB-toernooi in 1987 deelgeneem het, is:

 

*- dui lande aan wat hulle vir 2015 se WB-toernooi gekwalifiseer het

Span en eerste
deelname

Gespeel

Gewen

Verloor

Gelykop

Punte
Vir

Punte
Teen

Sukses
%

1. Suid-Afrika (1995)  (*)

29

25

4

0

1009

378

86.21%

2. N-Seeland (1987) (*)

43

37

6

0

2012

584

86.05%

3.Australië (1987) (*)

41

33

8

0

1423

528

80.49%

4.Engeland (1987) (*)

40

29

11

0

1246

633

72.50%

5.Frankryk (1987) (*)

43

30

12

1

1354

762

69.77%

6.Skotland (1987) (*)

33

19

13

1

972

620

57.58%

7.Ierland (1987) (*)

30

17

13

0

819

584

56.67%

8.Wallis (1987) (*)

32

18

14

0

919

633

56.67%

9. Argentinië (1987) (*)

30

15

15

0

742

605

50.00%

10. Samoa (1991) (*)

24

11

13

0

585

608

45.83%

11. Fidji (1987) (*)

24

9

15

0

538

762

37.50%

12. Italië (1987) (*)

24

9

15

0

455

811

37.50%

13. Tonga (1987) (*)

21

6

25

0

335

731

28.57%

14. Uruguay (1999) (*)

7

2

5

0

98

352

28.57%

15. Kanada (1987) (*)

25

7

16

2

469

680

28.00%

16. Roemenië (1987) (*)

24

5

19

0

305

939

20.83%

17. Georgië (2003) (*)

12

2

10

0

144

401

16.67%

18. VSA (1987) (*)

21

3

18

0

300

736

14.29%

19.Japan (1987) (*)

24

1

22

1

428

1158

4.17%

20.Namibië (1999) (*)

15

0

15

0

144

974

0.00%

21.Zimbabwe (1987)

6

0

6

0

84

309

0.00%

22.Rusland (2011)

4

0

4

0

57

201

0.00%

23.Portugal (2007)

4

0

4

0

38

209

0.00%

24.Ivoorkus (1995)

3

0

3

0

29

172

0.00%

25.Spanje (1999)

3

0

3

0

18

122

0.00%

 

Cell C-gemeenskapsbeker

 

Die Impala-rugbyklub van Rustenburg, huidige SA Cell C-gemeenskapsbekerkampioen, sal in 2015 sy titel op sy tuisveld verdedig, want die uitklopwedstryde van dié kompetisie sal in die Paasnaweek op dié klub se velde beslis word.

 

Impala kom vroeg in die nuwe jaar in drie wedstryde te staan teen onder andere die huidige Varsitybeker-kampioen, die Ikeys (13 Januarie), gevolg deur kragmetings teen die Universiteit van Johannesburg (19 Januarie) en Tukkies (24 Januarie).

 

Durbanville Bellville het die afgelope Saterdag die 20ste en laaste deelnemer aan 2015 se kompetisie geword nadat dié Kaapse span Upington-dorp met 82-26 verslaan het.

 

Die loting is ook intussen gedoen en dis interessant dat Coillege Rovers (KZN), SA klubkampioen in 2010 en 2012 en naaswenners in 2013, saam met twee swaargewigte soos Raiders (Gaunteng) en Pretoria-Polisie (Blou bulle) in Groep B geloot is.

 

Die kompetisie begin in alle erns op 21 Februarie 2015 en oor die volgende vyf weke sal die 20 spanne mekaar die stryd aansê om ‘n plek in die Paasnaweek-toernooi tussen 2 en 6 April in Rustenburg. Die 12 wedstryde in die Paasnaweek word regstreeks gebeeldsend. Die twee topspanne in elke groep sal in Rustenburg in aksie wees.

 

Die vier groepe is:

 

Groep A - Rustenburg Impala (Luiperds – die kampioen), Old Selbornians (Grens), Springs (Valke), Durbanville-Bellville (WP), Port  Elizabeth SAPD (OP Kings).

 

Groep B - Raiders (Goue Leeus), Pretoria SAPD (Blou Bulle), Bloemfontein Crusaders (VS), Noordelikes (Limpopo Blou Bulle), College Rovers (KZN).

 

Groep C - Hamiltons (WP), Villagers Worcester (Boland, Sishen (Griekwas), Pacaltsdorp Evergreens (SWD), Wanderers Chiefs (Goue Leeus).

 

Groep D - Durban Collegians (KZN), Despatch (OP Kings), Welkom Rovers (Griffons), Ferros (Pumas), Wesbank (Boland).

 

Bokke en Proteas in ‘n T20-wedstryd

 

Die Springbokke en die Proteas pak mekaar op 5 Desember om die Nelson Mandela-gedenkbeker in 'n T20-wedstryd op die Wanderers in Johannesburg.

 

Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) en Krieket Suid-Afrika (KSA) span saam met die Nelson Mandela-stigting om aan toeskouers ’n unieke kragmeting te bring op die eerste herdenking van die afsterwe van oudpres. Nelson Mandela.

 

Verskeie geldinsamelingsprojekte waarvan die opbrengste aan die Nelson Mandela-stigting gaan, sal daardie dag aangebied word.

 

“Die afsterwe van Madiba het ons almal as Suid-Afrikaners tot in ons diepste wesens geruk en het ons met ’n gevoel gelaat om iets te doen om sy nalatenskap te laat voortleef,” het mnr. Jurie Roux, uitvoerende hoof van Saru, gesê.

 

“Hy het onverpoos gewerk om mense van verskillende gemeenskappe bymekaar te bring en hierdie wedstryd doen ook op ’n klein manier ’n deel.

 

“Die skenking wat gemaak sal word vir sy stigting is ons bydrae tot die pogings om sy werk voort te sit. Die Springbokke het verlede jaar se kragmeting met die Proteas werklik geniet en wil hierdie tradisie voortsit,” het mnr. Roux gesê.

 

Gewese Namibiese rugbykaptein oorlede

 

’n Voormalige kaptein van die Namibiese rugbyspan, Piet du Plooy (49), is die naweek oorlede. Dié voormalige Namibiese slot het tussen 1992 en 1994 vyf keer vir sy land uitgedraf.

 

Du Plooy het Donderdag ’n hartaanval gehad en is hy vir behandeling in die Katolieke hospitaal in Windhoek opgeneem. Du Plooy, wat vroeër in sy lewe ’n stryd teen bloedkanker oorleef het, het diep spore in Namibiese sport as ’n administrateur getrap.

 

Hy het veral ’n groot versoeningsrol in Namibiese sportkringe gespeel. Hy was ook ’n belangrike figuur in die Namibiese toerismebedryf.

 

(*) Inligting deur Frikkie van Rensburg

Share this article: