Free State Rugby - Since 1895

Buy your tickets online!

Online Tickets

#tbt Curriebeker 2005

Posted on Thursday, 03 Sep 2015

#tbt Curriebeker 2005

Die Cheetahs het van 2004 tot 2007 vier goue Curriebeker-jare beleef, wat met tye diskoligte, kleurhemde en kleurkaarte ingesluit het. Hendrik Cronjé, Volksblad se sportredakteur, het oor al vier die eindstryde berig en dit self bygewoon. Hy deel sy herinneringe en sekere gebeure agter die skerms.   

 

2005: Die Cheetahs moes weer soos 12 maande vantevore na Pretoria reis vir die eindstryd. Niemand behalwe die Vrystaat-span van Erasmus  (wat toe die hoofafrigter was) self,  het die Cheetahs weer vooraf 'n kans gegun om die magtige Bul-span op Loftus te klop nie. Een van die hoofopskrifte waarmee die Cheetahs in die Jakarandastad begroet is, was juis: Die beker bly in Pretoria.

 

Daar was 14 dae voor die eindstryd ook verskeie omstrede voorvalle waarmee die jong Erasmus moes plan maak. Hy het byvoorbeeld voor die halfeindstryd teen die WP op Nuweland verneem dat sy een vleuel, Trompie Nontshinga, op pad na die Bulle was. Toe Nontshinga se foon boonop die Maandag voor die halfeindstryd in 'n spanpraatjie lui met die Blou Bul-lied as sy deuntjie, het Erasmus besluit dié vleuel moet net daar en dan sy stewels vat en loop. Dit het die deur vir Philip Burger oopgeswaai om in die halfeindstryd en eindstryd in die beginspan ingesluit te word.

 

Die Samoaanse haker Trevor Leota is ook vir 'n laataand in die plaaslike casino gestraf en was hy nie langer deel van Erasmus se planne vir die uitkloprondes nie.

Op Nuweland is Erasmus se vuurvreter-slot Boela du Plooy se kakebeen boonop deur 'n steelhou van die WP-slot Ross Skeate afgeslaan en is Corniel van Zyl (nou die Cheetahs se voorspelerafrigter) noodgedwonge as slot vir die eindstryd betrek. Van Zyl was terloops een van die beste rankers in wêreldrugby.

 

Erasmus was egter takties 'n meester. Hy het vooraf, met Franco Smith en Helgard Müller se hulp, aan die fynste detail aandag gegee om te verseker dat sy span kon verras.

 

Erasmus het dinge op sy manier gedoen en het verskeie gebeure agter die skerms 'n groot invloed op sy span se uiteindelike sukses gehad. Hy het byvoorbeeld sy span die week voor die eindstryd met die deuntjie van Steve Hofmeyr se Blou Bul-lied in die Vrystaat-stadion laat sweet. Hy het die musiek doelbewus kliphard laat speel dat sy spelers nie mekaar op die oefenveld kon hoor nie om op so 'n wyse aan Loftus se geraas en intimiderende skare gewoond te raak. 

 

Daar was ook kopspeletjies. Erasmus het byvoorbeeld gesê Os du Randt sou slegs saamreis na Pretoria, maar nie speel nie. Du Randt het eindelik in Darron Nell se plek op die bank gesit.  Du Randt was ook deel van die Cheetahs se gevreesde stutfaktor - Ollie le Roux, CJ van der Linde, Jannie du Plessis en Wian du Preez was die ander voorrymanne wat almal Bok geword het. Dis ook danksy hulle teenwoordigheid dat die Cheetahs oor die enigste agttal in die land beskik het om die Ligbloues voorlangs te getem het.

 

Du Randt en die Bok-slot Victor Matfield was toe onder meer in die eindstryd in 'n skermutseling betrokke waarby van die Bulle se bestuurspan selfs betrokke geraak het en op die veld gestorm het.

Met die telling op 25-12 in die guns van die tuisspan, het dit gelyk of die Vrystaters weer teleurgesteld terug na Bloemfontein moes pendel. Maar toe stuur Erasmus van sy plaasvervangers op wat die gang van die wedstryd in 'n oogwink geswaai het.

 

Die flank Kabamba Floors was een van die plaasvervangers wat uitstekend was toe hy opgestuur is. Erasmus het agterna erken Floors was sy troefkaart toe sake verlore gelyk het.

 

Dit was egter 'n hangskop wat deur die plaasvervanger-skrumskakel Falie Oelschig geloods is, tussen die Bulle se heelagter Johan Roets en skrumskakel Fourie du Preez beland het om in die plaasvervanger-agterspeler Meyer Bosman se hande te spring wat die deurslaggewende drie behaal het.

 

Die res is geskiedenis en is daar verskeie Bul-ondersteuners wat Le Roux tot vandag nie kan vergewe vir die sigaar wat hy na die eindfluitjie op Loftus gerook het nie.  

 

Die feesvieringe in die kleedkamer was 'n absolute belewenis gewees en kon Naka Drotské (kaptein) sy loopbaan as 'n speler op 'n gepaste wyse afsluit nadat hy voor die aanvang van die seisoen deur Erasmus omgepraat is om net 'n jaar langer te speel. Die sjampanje het ook vrylik gevloei uit die Curriebeker terwyl die pawiljoene leeggeloop het en Loftus se gange stilgeraak het.

 

* Die spanne wat in 2005 se eindstryd op Loftus Versfeld slaags was:

Blou Bulle: Johan Roets, Akona Ndungane, JP Nel, Wynand Olivier, Bryan Habana, Morné Steyn, Fourie du Preez, Anton Leonard (k), Pedrie Wannenburg, Jacques Cronjé, Victor Matfield, Bakkies Botha, Andries Human, Gary Botha, Kees Lensing. PLAASVERVANGERS: Danie Coetzee, Wessel Roux, Danie Rossouw, Johan Wasserman, Heini Adams, Derick Hougaard, Riaan van der Bergh.

Cheetahs: Bevin Fortuin, Eddie Fredericks, Chris Kruger, Barry Goodes, Philip Burger, Willem de Waal, Michael Claassens, Ryno van der Merwe, Juan Smith, Hendro Scholtz, Barend Pieterse, Corniel van Zyl, Jannie du Plessis, Naka Drotské, Wian du Preez. PLAASVERVANGERS: Ollie le Roux, CJ van der Linde, Os du Randt, Kabamba Floors, Falie Oelschig, Meyer Bosman, Alwyn Hollenach.

Telling: Blou Bulle 25 Cheetahs 29

Skeidsregter: Jonathan Kaplan.

Share this article: