Posted on Thursday, 20 Aug 2015
Dáái eerste Curriebeker – ‘n
ongelooflike belewenis!
DIT was skuins ná 17:30 op Saterdag 25 September 1976. Trane het in die Vrystaat-kleedkamer gerol. Daar was 'n stomme ongeloof oor dit wat daar tussen hulle gestaan het: die gesogte Goue Beker, dié Curriebeker, was húl eiendom vir 'n jaar!
Daar het hulle in 'n kringetjie om die Goue Beker in hul kleedkamer gestaan.
Die groepie Vrystaters was tot sterwens toe moeg, maar baie gelukkig. Kort tevore het die Vrystaatspan van Wouter Hugo die Westelike Provinsie in die Curriebekereindstryd in die Vrystaatstadion in Bloemfontein met 33-16 geklop en daardeur die eerste keer in sy bestaan van 82 jaar die Curriebeker in rugby ingepalm.
Daar is mooi gekyk, én gewonder: “Het hierdie droom van ons uiteindelik werklikheid geword?''
Daar is 'n slag gevat-vat na die Goue, net om seker te maak dit is nie net 'n droom nie!
Mnr. Nelie Smith, mede-afrigter van die span en 'n man wat sedert die 1971-seisoen die Vrystaatse span afgerig het, het later vertel: “Daar was 'n gedempte atmosfeer voor die wedstryd in die kleedkamer. Dit was 'n atmosfeer van gemotiveerdheid. Die manne was doodstil. Die praatwerk is die oggend gedoen. Woorde was nie nodig nie. Almal het besef wat van hulle vir 80 moordende minute verwag word.''
In die gang by die kleedkamer is geesdriftiges weggekeer. 'n Paar bevoorregtes het die kleedkamer gehaal. Daar is in groot opgewondenheid bladgeskud, en een van die eerstes wat die manne “bygekom het'', was Frans de Jager - in die jare sestig kaptein van die Vrystaatspan. Ook Thys Lourens, kaptein van Noord-Transvaal wat in sy onder 20-dae sy militêre diensplig in Bloemfontein gedoen het, het die Vrystaters gaan gelukwens.
Daar was trane van blydskap by die manne ná die wedstryd. Klein Dirk Froneman (senter) kon dit nie langer verduur nie. Die trane het gekom, sommer 'n stortvloed daarvan. Eenkant het Rampie Stander en groot Klippies Kritzinger, die twee mees ervare manne in die agttal, gesit. Dié twee ou grotes was gedaan, maar dit was 'n moegheid wat lekker was.
Gerrie Germishuys en De Wet Ras het vinnig elkeen met 'n koeldrank of twee in die hand onder die stortbad ingespring om die moegheid van die liggaam af te skud. Hoogs tevrede.
Agter die hoofpaviljoen het 'n swartman (hy was so skouerhoogte lank) sy vreugde getoon.
“VRY-S-T-A-A-A-T!!!!'' het hy telkens luid laat hoor, en dan skree hy Vrystaat uit 'n gebukkende posisie van kniehoogte af. En wanneer hy penregop, hande omhoog staan, sterf die laaste klanke van dié bekende strydkreet weg. Dié States hét daardie naweek feesgevier.
Voor die Curriebekerwedstryd op 28 Augustus 1976 teen Noord-Transvaal in Bloemfontein het die keurders 'n bom gelos deur die 23-jarige Wouter Hugo bo Klippies Kritzinger as kaptein te kies. Die Vrystaters het net die vorige Saterdag lelik aapstert teen die WP op Nuweland met 7-21 gekry.
Kritzinger het sy plek as slot behou, en hy hét 'n belangrike rol in die welslae van die Vrystaters gespeel in die oorwinnings oor Noord-Transvaal (21-14), die All Blacks (15-10) en in die eindstryd oor die WP (33-16).
Die welslae wat die Vrystaat in veral 1976 behaal het, kan grootliks daaraan toegeskryf word dat die meeste spelers uit één klub - die UV - gekom het; dat die provinsiale spelers ná afstigting in 1968 minstens drie keer per week vir groepafrigting kon saamtrek; en die verskillende kapteins, wat die Vrystaat tussen 1971 en 1976 ingespan het, baie lojaal was teenoor die afrigters, mnre. Smith en Van Zyl.
Dit is verder baie interessant watter rol die syfer “3” in dié wedstryd gespeel het:
Die Vrystaat het in die finaal nie toegelaat dat die twee Springbok-losvoorspelers Morné du Plessis en Boland Coetzee, soos in die twee vorige wedstryde in 1976, die spel uit die los dikteer nie. Die bal is blitsig na die vleuels laat loop, waar die Vrystaat ook kon bykom.
In die middelveld was dit ook Dirk Froneman, SA Onder21-senter van die Vrystaters, wat vreesloos onder die twee Springbok-toetssenters, Peter Whipp en Johan Oosthuizen, met plettervatte ingeseil, en hul spel só ontwrig het, dat die sterbelaaide WP-agterlyn nooit in die hoogste versnelling kon kom nie.
Die Vrystaatspan daardie roemryke dag:
Afrigters: Nelie Smith en Sakkie val Zyl. Spanbestuurder: Steve Strydom. Gysie Pienaar(*); Gerrie Germishuys(*), Dirk Froneman(*), Joggie Jansen(*), Edrich Krantz (*4); De Wet Ras (*2x3; strafx3; skep), Barry Wolmarans (* 4; skep); Rampie Stander(*), Wouter Hugo (kaptein), Martiens le Roux(*), Theuns Stofberg(*), Klippies Kritzinger(*), Ross van Reenen, Eben Jansen (* - af; Gerrie Sonnekus/* - op), Tiny du Plessis (4). Reserwes: Piet strydom, Noel van Rensburg en Jan Schlebusch(*).
(*) Was reeds Springbok of het later Springbok geword.
Storie deur Frikkie van Rensburg.