Free State Rugby - Since 1895

Buy your tickets online!

Online Tickets

Juan ná 2 jaar terug

Posted on Tuesday, 29 Jan 2013

Juan ná 2 jaar terug

BLOEMFONTEIN. – Sowat 15 minute Saterdag hier sal die eerste aanduiding wees of die laaste 2 jaar op die krukkelys vir Juan Smith die moeite werd was.

Dié Springbok-flank sal sake in die Vrystaat-stadion, waar dit skielik op 25 Februarie 2011 in ’n Super-rugbywedstryd teen die Bulle geëindig het, hervat.

Smith sal ná ’n ernstige hakseningbesering in die Toyota Cheetahs se Versoeningsdag-feeswedstryd teen die Stormers terugkeer in ’n poging om sy fiksheid voor die Superrugby-reeks te bewys. Hy is een van ’n paar staatmakers wat die eerste keer in 2013 kan uitdraf.

Hoewel die 31-jarige Smith sedert verlede week by die Toyota Cheetahs se oefenveld te sien is, het ’n swaard nog oor sy toekoms gehang.

Hy het vanweë sy langdurige besering nie meer ’n Toyota Cheetahs-kontrak nie en is verlede jaar met ’n skuif na die Franse klubspan Bayonne verbind.

Sport24 verneem Smith sal mits hy fiks is nes die flank Frans Viljoen, wat ook beseer was, vir wedstrydgeld speel as hy vir die Super-reeks reg is.

Die Bok sal in Super-oefenwedstryde teen die Stormers en volgende naweek teen die Bulle in Polokwane kans kry om sy fiksheid te bewys.

Volgens Hawies Fourie, die Toyota Cheetahs se hulpafrigter, was die oorspronklike plan om hom in volgende Woensdag se oefenstryd (hier teen Griekwas) te laat speel, maar dit vind nie meer plaas nie. Die Toyota Cheetahs het weens beserings te min slotte en stutte en daarom is besluit om dié wedstryd af te stel.

“Juan is reg om te speel. Hy sal seker so 15 minute teen die Stormers en 30 minute teen die Bulle speel,” het Fourie gesê.

“Dit sal ons toelaat om hom moontlik in die eerste Super-wedstryd, teen die Haaie, te oorweeg.”

Die Toyota Cheetahs sal ondanks Saterdag se nederlaag van 17-33 teen die Leeus op Ellispark nie hul beste span teen die Stormers kies nie. Dit sal eers teen die Bulle gebeur.

Fourie het gesê die Toyota Cheetahs sal, omdat die Poublou-stryd af is, waarskynlik meer as 22 spelers teen die Kapenaars kans gee. Die flank Lappies Labuschagné (enkel), agtsteman Philip van der Walt (knie), heelagter Willie le Roux (lies) en senter Johann Sadie (dyspier) kan almal die naweek ná beserings terugkeer.

Die Bok-haker Adriaan Strauss, wat teen die Leeus gerus het, sal ook dalk Saterdag ’n paar minute speel. Hy sou aanvanklik eers teen die Bulle ingespan word. Volgens Fourie sal die beseerde Bok-losskakel Johan Goosen (knie) teen die Bulle terugkeer.

) Intussen het twee Bok-hulpafrigters die Toyota Cheetahs gister besoek.

John McFarland, verdedigingsafrigter, en Ricardo Loubscher, agterlyn-afrigter, het ’n draai gemaak as deel van ’n Bok-inisiatief om Suid-Afrikaanse Super-franchises by te staan en idees uit te ruil.

Share this article: