BLOEMFONTEIN. – Daar was ’n dubbele dosis goeie nuus vir Griekwas se rugbyspan toe die Toyota Cheetahs-afrigter, Naka Drotské, sy finale Super-groep van 35 spelers bekend gemaak het.
Die plettervatter JP Nel en blondekop-baljagter Marnus Schoeman is vir eers vir Vodacombeker-rugby beskikbaar gestel. Die klem is op “vir eers”, aangesien die Super-reeks lank is en hulle wel later speelkans kan verwag.
Maar die tweetal en die veelsydige agterspeler Jannie Boshoff kan reeds deur die Griekwas-breier, Pote Human, vir eerskomende Woensdag se oefenwedstryd teen die Southern Kings in die Baai oorweeg word.
Hoewel die slot Martin Muller en vleuel Dusty Noble se name ook nie tussen die 35 in die verkleinde groep tel nie, is albei beseer.
Die Vodacombeker-span van die Vrystaat sal self deur spelers soos die slot Waltie Vermeulen, haker Torsten van Jaarsveld, flank Tertius Daniller en senter Joubert Engelbrecht versterk word.
Vermeulen, wat vanjaar weer volstoom rugby speel nadat hy einde 2012 as ’n mediese dokter gekwalifiseer het, sal reeds volgende Vrydag se oefenwedstryd in Bothaville teen die Griffons wil gebruik om sy wedstrydskerpheid behoorlik te bewys.
Voor sy studies is daar groot dinge vir Vermeulen (1,98 m, 106 kg) voorspel, maar sedertdien het die 20-jarige Lood de Jager (2,05 m, 122 kg) hom vanaf die Luiperds hier aangesluit.
Daniller sal soos Schoeman op sy speelkans moet wag, aangesien die Toyota Cheetahs met spelers soos Juan Smith en Frans Viljoen, wat van hul beserings herstel het, oorgenoeg diepte op flank het.
Van Jaarsveld en Engelbrecht sal waarskynlik hul visiere op speelkans in die Curriebeker-reeks instel. Van Jaarsveld staan agter Adriaan Strauss, Ryno Barnes en Hercu Liebenberg in die Super-tou. Engelbrecht moet ná ’n enkelbesering homself egter eers bewys.
• Vanjaar se finale Super-groep verskil heelwat van 2012 sin, met spelers soos Sias Ebersohn (losskakel, Western Force), Cameron Jacobs (beseerde vleuel, Vrystaat), Ashley Johnson (agtsteman, London Wasps), Wilmaure Louw (veelsydige agterspeler, Pumas), George Earle (slot, Llanelli Scarlets), WP Nel (stut, Edinburgh), Andries Strauss (senter, Southern Kings), Marcel van der Merwe (stut, Bulle), Izak van der Westhuizen (slot, Edinburgh) en Philip Snyman (veelsydige agterspeler, Blitsbokke) wie se name nie daarin verskyn nie.
• Die Toyota Cheetahs se finale groep van 35 spelers is:
Agterspelers: Hennie Daniller, Hansie Graaff, Willie le Roux, True Blue Smit, Johann Sadie, Barry Geel, Robert Ebersohn, Rayno Benjamin, Raymond Rhule, Rocco Jansen, Johan Goosen, Elgar Watts, Francois Brummer, Piet van Zyl, Sarel Pretorius, Tewis de Bruyn.
Voorspelers: Lappies Labuschagné, Heinrich Brüssow, Juan Smith, Philip van der Walt, Davon Raubenheimer, Frans Viljoen, Boom Prinsloo, Francois Uys, Ligtoring Landman, Lood de Jager, Andries Ferreira, Rossouw de Klerk, Lourens Adriaanse, Coenie Oosthuizen, Trevor Nyakane, Caylib Oosthuizen, Adriaan Strauss, Ryno Barnes, Hercu Liebenberg.