Are you ready for the clash?

Buy your tickets online!

Online Tickets

Die Brüssow-turksvy

Posted on Thursday, 08 May 2014

Die Brüssow-turksvy

BLOEMFONTEIN. – Met die Springbokke se eerste wedstryd van 2014 wat presies oor ’n maand in die Kaap plaasvind, het Francois Louw en Marcell Coetzee se beserings die week opnuut die ou debat oor Heinrich Brüssow se toetsrugbyloopbaan heropen.

Die Bokke kom op 7 Junie op Nuweland teen ’n Wêreldspan te staan en dit is onseker of Louw en Coetzee ná beserings dan behoorlik wedstrydskerp sal wees.

Louw het op 22 Maart in sy laaste wedstryd vir Bath gespeel toe hy in ’n Engelse Premierliga-kragmeting enkelligamente teen London Irish beseer het.

Bath se hoofafrigter, Mike Ford, het toe gesê hy hoop Louw kan op 10 Mei terugkeer. Dit kon gister nie bevestig word of hy beslis die naweek vir sy span sal terug­keer nie.

Coetzee het nog die afgelope naweek vir die Haaie in Melbourne gespeel, waar hy teen die Rebels ’n skouerbesering opgedoen het. Sy afrigter, Jake White, het hom gister huis toe gestuur en dis onseker wanneer hy weer oorweeg kan word.

Met Louw en Coetzee tans langs die kantlyn as die Bok-afrigter, Heyneke Meyer, se eerste en tweede keuse as nr. 6-flanke, het die deur skielik weer vir Brüssow oopgeswaai om sy land in meer as sy 20 toetse op sy kerfstok te verteenwoordig.

Die 27-jarige Brüssow regverdig ook weer ’n Bok-kans ná ’n aantal vyfster-vertonings die laaste tyd vir die Toyota Cheetahs in die Superrugby-reeks.

Hy maak steeds ’n yslike impak by die afbreekpunte, verdedig goed – waarvan sy duikslae op die Bulle se Jacques du Plessis ’n goeie getuigskrif is – en is ’n slim baldraer.

Dit is bekend dat Meyer nie juis ’n voorstander van ’n spesialis-baljagter is nie, maar dit sal vanweë Brüssow se spelpeil tans moeilik wees om hom nie vir die Bokke te kies nie.

Die gewese Bok-flank André Venter is een van baie kenners wat deur Brüssow se goeie spel beïndruk is. “Heinrich is in ’n klas van sy eie. Sy swak wedstryde is beter as die meeste flanke se goeie wedstryde.

“Hy beklemtoon sy waarde wedstryd vir wedstryd en sal vir seker weer ’n groot bate vir die Springbokspan wees. Hy is bestendig, bestendig, bestendig!”

Sou Louw en Coetzee wel nie betyds herstel vir die wedstryd teen die Wêreldspan nie en Meyer verkies steeds nie om Brüssow te kies nie, kan die Bok-afrigter ook in die Stormers se Schalk Burger en Toulon se Juan Smith se rigting kyk.

Burger was die naweek uitmuntend teen die Highlanders, maar bied nie soos ’n Brüssow die X-faktor as ’n baljagter wat ’n toets in die guns van die Bokke kan swaai nie.

 

Smith speel skitterrugby vir sy Franse klubspan en dit sal verbaas as hy nie binnekort weer ’n Bok-uitnodiging kry nie. Hy kan ses- of seweflank speel. 

Share this article: