Are you ready for the clash?

Buy your tickets online!

Online Tickets

Cheetahs krap lekker kop oor losvoorspelers

Posted on Wednesday, 06 Feb 2013

Cheetahs krap lekker kop oor losvoorspelers

BLOEMFONTEIN. – Die suksesvolle terugkeer van Frans Viljoen én Juan Smith laat Naka Drotské, die Toyota Cheetahs se afrigter, reeds voor Saterdag se laaste Super-oefenwedstryd, teen die Bulle, met ’n lekker lostrio-kopseer.

Agt van sy nege losvoorspelers is fiks en hy moet sy vier voorstes vir die stryd in Polokwane kies. Net die beseerde Heinrich Brüssow (skouer) kan nie oorweeg word nie.

Vier strydrosse, Viljoen, Smith, Philip van der Walt en Lappies Labuschagné, het verlede naweek ná beserings hier teen die Stormers teruggekeer.

Smith (31) sal volgens Drotské waarskynlik eers weer, nes teen die Stormers, ’n plaasvervanger wees. Die Springbok, wat twee jaar weens ’n hakseningbesering uit was, is met die rustyd opgestuur en het 29 minute gespeel.

Smith was een van ses losvoorspelers in die Toyota Cheetahs se 27-tal. Van der Walt, Davon Raubenheimer en Boom Prinsloo het begin, met Viljoen, Smith en Labuschagné op die plaasvervangersbank.


Die ander losvoorspelers in Drotské se groep is Tertius Daniller, Marnus Schoeman en Brüssow.

“Ons moet nou net vier losvoorspelers kies uit almal wat reg is. Ek het nie begroot dat Frans én Juan gaan reg wees nie en dit is beslis ’n lekker probleem om mee te sit,” het Drotské gesê.

Die viertal wat Saterdag van beserings teruggekeer het, Van der Walt, Viljoen, Labuschagné en Smith, is in die binnebaan om teen die Bulle in die 22-tal te wees.

Share this article: