Posted on Tuesday, 24 Jun 2014
Nóú 8 Cheetahs in Bok-groep
Adriaan Strauss, Springbok-haker en Toyota Cheetah-kaptein, is een van vier versterkings wat deur Heyneke Meyer, die Springbok-afrigter, na die Bok-kamp vir Saterdag se toets teen Skotland in Port Elizabeth ontbied is.
Nege Springbokke wat die afgelope naweek in die twee toetse teen Wallis in Nelspruit in aksie was, sal nie Saterdag se toets oorweeg kan word nie - Flip van der Merwe (knie), Tendai Mtawarira (nek), en die sewe manne wat in Frankryk speel - Gurthrö Steenkamp (stut), Schalk Brits (haker), Bakkies Botha (slot), Francois Louw (flank), Morné Steyn (losskakel), Wynand Olivier (senter) en Bryan Habana (vleuel).
Dit is ook nog onseker of Willem Alberts, Springbok-flank wat Saterdag die veld met harsingskudding verlaat het, fiks vir Saterdag se toets teen die Skotte fiks sal wees.
Die sewe ander Toyota Vrystaat Cheetahs in die Bok-groep is: Willie le Roux, Cornal Hendricks, Johan Goosen, Coenie Oosthuizen, Trevor Nyakane, Lood de Jager en Oupa Mohoje, én natuurlik Strauss.
Lood langste nóg in ‘n Cheetah-trui
Van Lood de Jager gepraat. Die insluiting van die 21-jarige Lood - hy word eers op 17 Desember 22 jaar oud – onlangs in die Springbokspan het met sy lengte van 2.05m ‘n lekker lewendige debat deesdae om die braaivleisvure ontlok oor wie die langste rugbyspeler is wat tot nóg toe vir die Springbokke gespeel het.
Die antwoord? Lood staan op 2.05m tweede in hierdie tou, want Andries Bekker, wat op 6 Oktober 2012 teen die All Blacks in sy 29ste en laaste toets vir Suid-Afrika gespeel het – is op 2.08m (6’10”) die langste Springbok-rugbyspeler nóg.
Feit van die saak is egter dat Lood op 2.05m wel die langste rugbyspeler is wat al vir die Vrystaat op die veld gedraf het.
Én dit het tot ‘n verdere speurtog aanleiding gegee: dié van wie die langste internasionale rugbyspeler tot nog toe is? Richard Metcalfe, slot van Skotland, wat tussen 2 April 2000 en 3 Maart 2001 in nege toetse vir die Skotte gespeel het. Metcalfe het die maatband tot ‘n yslike 2.13m (7 vt) laat rek.
Se sander internasionale rugbyspelers was op 2.08m (6’10”) die tweede langste.
Die langste internasionale rugbyspelers tot nóg toe is:
2.13m (7vt) - Richard Metcalfe (Skotland).
2.08m (6’10”) – Martin Bayfield (Engeland), Andries Bekker (SA), Richie Gray (Skotland), Derwyn Jones (Wallis), Peter Stagg (Skotland) en Devin Toner (Ierland).
Die langste Springbok-rugbyspelers is:
2.08m (6’10”) – Andries Bekker.
2.05m (6’9”) – Lood de Jager.
2.04m (6’8½”)- Niel Hugo, Adolf Malan en Johnny Trytsman.
Volgens alle aanduidings dus is dié volgende spelers die langste wat tot nóg toe vir die Vrystaatse rugbyspan uitgedraf het:
2.05m (6’9”) – Lood de Jager.
2.03m (6’8”) - Nico Barnard.
2.01m (6’7½”) – Vleis Visagie.
2.00m (6’7”) – Hennie Bekker.
In 1956 was Chris de Nysschen, wat ook vir die Vrystaat gespeel het, met sy lengte van 1.98m (6’6”) dié besprekingspunt van Basie Vivier se Springbok-toerspan in Australië wen Nieu-Seeland. Die drie ander slotte in daardie span, was Salty du Rand, Jan Pickard – oupa van die huidige Springbok-flank Francois Louw - en Johan Claasen, was “heelwat” korter op 1.90m (6’3”)!
Prinsloo bly in sy “Boom”-huis
Boom Prinsloo, Springbok-sewesspeler en Toyota Vrystaat Cheetah-losvoorspeler, het die afgelope klompie dae bekend gemaak dat hy sy kontrak met die Toyota Cheetahs tot einde 2015 verleng het.
Boom sê hy is baie gelukkig in Cheetah-land en hy glo daarin om te verander as jy gelukkig is nie.
Hy het intussen ‘n liesoperasie ondergaan en sal die res van die Super-reeks misloop. Boom sal egter betyds oorgehaal wees vir die Toyota Vrystaat Cheetahs se eerste Absa Curriebeker-wedstryd op 9 Augustus teen die omgekrapte Pumas in Nelspruit.
Cornal druk vir ouma – sommer twee keer
Op sy linkerpols het Cornal Hendricks, nuwe Springbok-regtervleuel van die Toyota Cheetahs, ‘n wit bandjie met dié woorde in die eerste toets teen Wallis gedra:
“Ouma” en Filippense 4:13: “Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee”.
Nadat hy sy drie in die eerste toets teen Wallis in Durban gedruk het, het Cornal na dié bandjie gewys en vir ‘n oomblik na die hemelruim gestaar.
Ná die wedstryd het Cornal in ‘n onderhoud met Marisa Fockema van Volksblad in Bloemfontein gesê dié drie was vir sy ouma, wat die Dinsdag voor die toets oorlede is. “Dié bandjie was om erkenning aan haar te gee. Sy was ‘n baie spesiale ouma, so na aan my hart,” het Cornal gesê.
Én, die afgelope Saterdag het Cornal sy tweede drie gedruk en so byna-byna ‘n derde, maar is in daardie gewraakte laaste beweging van dié opwindende toets gevaarlik met die skouer en elmboog op die hoekvlag deur die Walliese heelagter, Liam Williams, uitgeboender. ‘n Strafdrie is toe deur mnr. Steve Walsh, die Aussie-skeidsregter, aan die Bokke toegeken en Morné Steyn het met die doelskop die Bokke met 31-30 laat wen.
André en Joe se seuns in Coca-Cola Cravenweek
Dit is g’n nuutjie nie dat die seuns en kleinseuns van bekende rugbyspelers in húl rugby-voetspore volg nie.
In die afgelope Saterdag se Springbokspan teen Wallis in Nelspruit het twee gewese Vrystaatse Springbokke, Gysie Pienaar (heelagter) en Flip van der Merwe (stut) se seuns, onderskeidelik Ruan (skrumskakel) en Flippie (slot), in die Groen en Goud uitgedraf.
Twee voormalige Vrystaatse spanmaats, die Springbok André Venter en Joe Beukes, se seuns, onderskeidelik André-Hugo en Danwich, is sopas in die Vrystaatse laerskole-Cravenweek-span ingesluit wat op 30 Junie in hul eerste Coca-Cola Cravenweek-wedstryd in Durban teen die SWD Arende speel.
Ander huidige Springbokke wie se pa’s en oupa ook bekende rugbyspelers was, is: Jannie en Bismarck du Plessis, seuns van Francois du Plessis (Oos-Vrystaat se stut); Fourie du Preez, seun van die Junior Springbok met dieselfde naam; Schalk Burger, wie se pa, Schalk Burger, slot vir die Bokke gespeel het; Jan Serfontein, wie se pa, Jan, vir die OP en die Pumas agtsteman gespeel het; en Francois Louw, wie se oupa, die bekende Springbok-slot van die 50’s van die vorige eeu, Jan Pickard, was.
“Warm” rugby in die koue
“Warm” rugby is die afgelope Saterdag in die ysige weer gesien, ondanks die teleurstelling dat twee wedstryde wéér weens omstandighede nie plaasgevind het nie, berig Roy Abrahams.
Klubbeamptes het hul asem kwaai voor die afskop van die wedstryde opgehou, want drie van die kragmetings sou bepalend met die oog op die finale stand van sake in die kompetisie wees. Dit sou ook bepaal waar die halfeindstryde gespeel sal word deur diegene wat die kwarteindrondes wen.
Ongelukkig egter, het twee wedstryde nie plaasgevind nie. In die Suide het Burgersdorp nie genoeg spelers gehad om teen Zastron Vultures te speel nie, én in die Noorde het Koffiefontein Blues eers 16:45 op Venterstad opgedaag vir hul wedstryde teen Venterstad Rovers. Dié wedstryd moes reeds om 15:00 afskop en teen daardie tyd het die skeidsregter reeds vertrek en het Venterstad Rovers se laaste ligawedstryd in ‘n antiklimaks geëindig, hoewel hulle steeds die volle 5 ligapunte gekry het.
Twee klipharde wedstryde is in die Suide beslis. Op die ysige Barkley-Oos het AliwalBuffels met een doel voor oë opgedaag: Om 5 ligapunte te verdien om tweede te eindig wanneer Eureka Hibernians hul wedstryd sonder ‘n bonuspunt verloor. Die wedstryd, was volgens inligting, skoon en kliphard. Die manne het nie baie liefde vir mekaar op die veld getoon nie. Aliwal Buffels het die wedstryd net-net sonder ‘n bonuspunt met 15-10 gewen, maar Barkley Black Jacks is beslis nie verneder nie.
Op die slagveld van Eureka Hibernians was dit ‘n stryd der stryde. Die voorlopers, Hilton Eur Africans, het hulle vasgeloop teen ‘n begeesterde Eureka Hibernians. Die tuisspan het ‘n rooikaart vir ‘n boorvat in die tiende minuut van die wedstryd gekry en moes die wedstryd met 14 man klaarkom. Dit het hulle slegs meer gemotiveer om die haas uit die hoed te pluk.
Hulle het 7-3 tot in die 68e minuut voorgeloop voordat die besoekers die wedstryd voor hul neuse weggeraap het deur ‘n verdoelde drie aan te teken. Eureka Hibernians was egter baie ongelukkig om nie as oorwinnaars weg te stap nie.
In die Noorde was dit Colesberg Universals wat die kortpad na hul bure Gariepdam Scorpions moes neem. Hulle was met 24-3 te sterk vir die tuisspan.
Op Burgersdorp het Burgersdorp Crocodiles hul liga op ‘n hoë noot afgesluit deur die besoekers van Venterstad STOELE met 23-3 pak te gee.
Jongste uitslae
Noord-platteland
Gariepdam Scorpions 3–24 Colesberg Universals;
Burgersdorp Crocodiles 23–3 Venterstad Stoele.
Suid-platteland
Eureka Hibernians 7–10 Hilton Eur Africans.
Barkley Black Jacks 10–15 Aliwal Buffels.
Kwarteindronde
Op Saterdag 5 Julie vind die kwarteindstryde in die Danie Craven-stadion op Burgersdorp plaas. Dán speel die vier topspanne van Noord en Suid oorkruis teen mekaar om te bepaal wie betrokke sal wees en waar die halfeindstryde op 12 Julie 2014 sal plaasvind.
Bepalings vir die kwarteindronde op Burgersdorp is (die afskoptye sal later bekend gemaak word):
Burgersdorp-uitnodiging span t Zastron Vultures (proewe).
Eureka Hibernians t Colesberg Universals.
Venterstad Rovers t Aliwal Buffels.
Hilton Eur Africans t Venterstad Stoele.
Burgersdorp Crocodiles t Barkley Black Jacks.
Ligawenners
Hilton Eur Africans het die Suid-platteland as liga wenneronoorwonne afgehandel, terwyl Burgersdorp Crocodiles in die Noorde baas was.
Die finale puntestand in die twee afdelings is:
Suid-platteland
SPAN |
S |
W |
V |
G |
PV |
PT |
NETTO |
BP |
LP |
Eur Africans |
8 |
8 |
0 |
0 |
151 |
88 |
63 |
6 |
38 |
Hibernians |
8 |
4 |
4 |
0 |
145 |
194 |
-49 |
5 |
21 |
Buffels |
8 |
4 |
4 |
0 |
250 |
184 |
66 |
3 |
20 |
Barkley |
8 |
2 |
5 |
1 |
226 |
140 |
86 |
6 |
15 |
Burgersdorp |
8 |
1 |
6 |
1 |
112 |
278 |
-166 |
3 |
8 |
Noord-platteland
SPAN |
S |
W |
V |
G |
PV |
PT |
NETTO |
BP |
LP |
Crocodiles |
10 |
9 |
1 |
0 |
230 |
102 |
128 |
6 |
42 |
Rovers |
10 |
7 |
2 |
1 |
253 |
128 |
125 |
9 |
38 |
Universals |
10 |
5 |
5 |
0 |
227 |
141 |
76 |
7 |
28 |
Stoele |
10 |
5 |
4 |
1 |
83 |
107 |
-24 |
4 |
24 |
Blues |
10 |
3 |
7 |
0 |
67 |
120 |
-53 |
4 |
14 |
Scorpions |
10 |
0 |
10 |
0 |
43 |
277 |
-234 |
0 |
0 |
Griekwas op pad terug na
Premier-geselskap
Griekwas het dit Saterdag in hul uitspeel-wedstryd in Kimberley net-net met 33-32 gemaak, maar net soos in die kragmeting die vorige Saterdag teen die Boland Kavaliers in ‘n sopnat Boland-stadion in Wellington nie ‘n bonuspunt-uitklophou geplant om nou as enigste onoorwonne span ‘n gerieflike voorsprong van minstens drie punte in die reeks te geniet nie.
Daar bly nog drie wedstryde vir die sewe aanspraakmakers oor voor die gordyn finaal sal sak om toelating tot die Premier-afdeling van die Absa Curriebeker-kompetisie.
Die Luiperds het in die tweede helfte met groot vuur ingeklim en so byna-byna die Diamantvelders se hoop gekelder om weer in die Premier-afdeling te speel. Die Luiperds het in hul eerste twee wedstryde telkens ‘n bonuspunt-oorwinning behaal en die feit dat hulle Saterdag in Kimberley twee bonuspunte – deur met minder as 7 punte te verloor en vier drieë te druk – hul aanspraak, ondanks dié nederlaag, sterk lewendig te hou.
Die jongste stand van sake ná die eerste drie rondes is:
1.Griekwas (13 ligapunte ná 3 wedstryde: +66 punte), 2. Luiperds (12 ligapunte ná 3 wedstryde: +50 punte), 3. Griffons (6 ná 2 wedstryde: -1 punt), 4. Boland (6 ná 3 wedstryde: +5 nettopunte), 5. SWD (6 ná 3 wedstryde: -43 punte), 6. Valke (5 ná 2 wedstryde: -5 punte), 7. Grens (0 ná 2 wedstryde: -72 punte).
Oorblywende bepalings (tuisspanne word eerste genoem):
Vierde ronde – 27/28 Junie: Boland Kavaliers t SWD Arende; Griffons t Griekwas; Valke t Grens Bulhonde. LOSLOOTJIE: Luiperds.
Vyfde ronde – 4/5 Julie: Luiperds t Griffons; Grens Bulhonde t SWD Arende; Valke t Boland Kavaliers. LOSLOOTJIE: Griekwas.
Sesde ronde – 11/12 Julie: Boland Kavaliers v Luiperds; Grens Bulhonde t Griffons; Griekwas t Valke. LOSLOOTJIE: SWD Arende.
Sewende ronde – 18/19 Julie: Luiperds t Grens Bulhonde; SWD Arende t Griekwas; Griffons t Valke. LOSLOOTJIE: Boland Kavaliers.
Nico Scheepers tot Griekwas se redding
Griekwas was met rustyd reeds 27-11 voor, veral danksy Nico Scheepers (regtervleuel), se skopskoen. Scheepers het 23 punte tot Griekwas se totaal van 33 punte bygedra: ‘n drie, drie doelskoppe en vier strafdoele.
Marnus Schoeman, Burger Schoeman en Scheepers se drieë en Scheepers se afronding met die skoen, het aan Griekwas die stewige voorsprong gegee.
In die tweede helfte het die Luiperds die Griekwas onder geweldige druk gehou en drie drieë gedruk en die Kimberliete tot twee verdere Scheepers-strafdoele beperk.
Steph Roberts, stut van Griekwas, het Saterdag in sy 123e wedstryd vir die Poubloues gespeel.
Valke se eerste sege
Die wedstryd verlede Vrydag op George – tussen die SWD Arende en die Valke – was ‘n ware drieëfees. Die Valke het hul eerste wedstryd in die reeks, en slegs hul tweede vanjaar, behaal deur die Arende se vlerke met ‘n telling van 52-34 te knip.
Die wenners het sewe drieë gedruk en die Arende self het vyf drieë behaal. Hoewel Alshaun Bock die Arende eerste met ‘n drie bloed laat ruik het, het die Valke algaande die hef in die hand gekry en teen die einde die drieë begin inryg.
Jaun Kotze (losskakel) se bydrae van 22 punte het voorts tot die Valke se puik sege meegehelp.
Kavaliers wen eensydige kragmeting
Die Swartlandse besoekers aan die BCMN-stadion in Oos-Londen het reeds voor rustyd hul bonuspunt-drie gedruk, trouens drie drieë binne die eerste 22 minute, en hulle was met die blaastyd reeds op ‘n gallop met 22-5 voor. Boland het met 37-12 geseëvier.
Kort voor die einde was die Boland met 37-5 voor, maar in die stuiptrekkings het die tuisspan sy tweede drie gedruk.
Bok-sewes weer baas in Rome
Die Springbok-sewesspan het die afgelope naweek sy titel in die Rome-toernooi met welslae verdedig. Die Suid-Afrikaners het die toernooi gebruik ter voorbereiding van die Statebondspele aanstaande maand in Glasgow, Skotland.
Neil Powell (afrigter), wat as Vrystater self vir die Springbok-sewesspan gespeel het en die kaptein ook was, was veral in die wolke met die vertoning van die Vrystater Cecil Afrika, wat weer skerp was ná sy onlangse besering. Afrika het laas in Maart vanjaar in die Hongkong-toernooi gespeel.
Die Springbokke het onder andere nasionale spanne van Italië, Brasilië en Georgië. Daarna het seges gevolg oor die Switserse span (29-0) in die kwarteindronde, die Midi OlympiqueFroggies (24-7) in die halfeindronde en oor die 7 SIRS (42-5) , ‘n internasionale uitnodiging span, in die eindstryd.
Impala onoorwonne in Gaborone
Rustenburg Impala, wat vroeër vanjaar, Cell C se Gemeenskapsbeker in die landwye kompetisie vir oop klubs gewen het, het sy deelname aan die Afrikabeker-toernooi in Botswana onoorwonne afgesluit deur Saterdag met Nigerië 86-10 af te reken.
Impala het sy twee ander wedstryde ook baie maklik gewen deur Mauritius (61-17) en Botswana (54-9) uit die pad te stoomroller.
Mnr. Jurie Roux, uitvoerende hoofbeampte van die SA Rugby-unie, was in vervoering met die Rustenburgers se uithalerspel in Gaborone en oor die feit dat ons voorste klubspelers op internasionale vlak blootstelling kry.
“Dit is Suid-Afrika se plig om te help om die rugby standaard in Afrika te help verbeter. Impala se deelname in Botswana kan die begin daarvan wees,” het mnr. Roux gesê.
Die uitslae in Gaborone is:
Eerste ronde - Rustenburg Impala 61-17 Mauritius; Botswana 87-0 Swaziland; Nigerië 20-30 Zambië.
Tweede ronde - Botswana 9-54 Rustenburg Impala; Nigerië 61-10 Swaziland; Zambië 17-54 Mauritius.
Derde ronde - Rustenburg Impala 86-10 Nigerië; Botswana 66-14 Zambië; Mauritius 134-0 Swaziland.
Handré – Onder 20-speler van Toernooi
Handré Pollard, losskakel en kaptein van die SA Onder20-rugbyspan, het Vrydagaand die tweede Suid-Afrikaner ná Jan Serfontein (2012) geword wat deur die Internasionale Rugbyraad as Internasionale Onder20-speler van die Jaar aangewys is.
Die vorige wenners is:
2008 - Luke Braid (Nieu-Seeland), 2009 - Aaron Cruden (Nieu-Seeland), 2010 - Julian Savea (Nieu-Seeland), 2011 - George Ford (Engeland), 2012 - Jan Serfontein (Suid-Afrika), 2013 - Sam Davies (Wallis).
All Blacks jag onoorwonne rekord
Die All Blacks het weliswaar die afgelope Saterdag met hul oorwinning van 36-13 oor Engeland dié reeks 3-0 gewen, máár Richie McCaw - wat in sy 127e toets die 90e keer (wêreldrekord) kaptein was – en sy span het hul 17de opeenvolgende toetssege behaal en hulle het daarmee die bestaande wêreldrekord geëwenaar.
Die Nieu-Seelanders het hul laaste toets op 1 Desember 2012 op Twickenham in Londen teen die einste Engelse met 21-38 verloor. Sedertdien is hulle nog nie geklop nie. Die All Blacks het in 2013 al 14 hul toetse gewen, en vanjaar aldrie teen Engeland.
Die All Blacks gaan dus op 16 Augustus in die eerste Rugbykampioenskap-toets van 2014 teen Australië in Sydney probeer om dié rekord van die A-toetslande te verbeter, wat hulle saam met die Springbokke hou.
Die Springbokke het tussen 1997 en 1998 ook 17 toetse opeenvolgend gewen. Nieu-Seeland het self tussen 1965 en 1969 sewentien agtereenvolgende toetse gewen.
Strafdrieë in toetsrugby
Die twee strafdrieë wat Steve Walsh, die Aussie-skeidsregter Saterdag in sy 57e toets as blaser aan die Springbokke teen Wallis in Nelspruit toegeken het, is nie juis ongewoon in toetsrugby nie.
Op 7 Junie het JP Doyle (Engeland) ook twee strafdrieë in die Nasionale Stadion in Suva aan Italië in hul toets teen Fidji toegeken. Maar anders as vir die Springbokke, wat Wallis, ook danksy hierdie twee strafdrieë met 31-30 geklop het, was Italië nie so gelukkig nie en het die Fidjiane met 25-14 geseëvier.
(*) – Inligting deur Frikkie van Rensburg