Are you ready for the clash?

Buy your tickets online!

Online Tickets

Broers in dieselfde wedstryd vir die Vrystaat

Posted on Tuesday, 29 Sep 2015

Broers in dieselfde wedstryd vir die Vrystaat

Die twee Shimlas, De Wet (losvoorspeler) en Tertius Kruger (senter), het in die afgelope Saterdag se Curriebeker-wedstryd teen die Goue Leeus die dertigste paar broers die afgelope 120 jaar geword wat in dieselfde wedstryd vir die Vrystaat-Cheetahs op die veld draf.

 

Tertius, hy het op 9 Augustus 22 jaar oud geword, het sy ouer broer, De Wet, wat op 18 November 24 jaar oud word, voorgespring en hy het sy eerste proesel eersterangse rugby op 19 September in die Curriebeker-wedstryd teen Griekwas in die Vrystaat-stadion in Bloemfontein gehad toe hy Ryno Benjamin vervang het.

 

Die afgelope Saterdag was die Kruger-broers albei in die groep van 23 spelers vir die kragmeting teen die Goue Leeus – Tertius in die beginspan en De Wet op die bank. De Wet is een van min spelers wat drie keer in een wedstryd as ‘n plaasvervanger die veld op is. Hy het Niell Jordaan (agtsteman) telkens vervang:  in die 10e en 25e minuut vir bloed en toe Jordaan in die 43e minuut met harsingskudding van die veld is.

 

Albei Krugers is op Randfontein gebore en was op Wesbank Primêr en Oudtshoorn op skool, voor hulle Kovsies geword en die UV in die Varistybeker-kompetisie verteenwoordig het.   Albei was in die Shimla-span wat die Pukke op 13 April 2015 in die eindstryd om die Varsitybeker met 63-33 verslaan het.

 

Hulle het Cravenweek-rugby vir die SWD gespeel en albei het die Vrystaatse Onder19- en Onder21-spanne verteenwoordig.

 

Nege paar broers het in 10 of meer wedstryde saam vir die Vrystaat gespeel.  Die Ebersohn-tweeling, Robert (senter) en Sias (losskakel), het in 37 wedstryde saamgespeel.  Die twee voorrymanne, Piet (vaskopstut) en André Bester het saam in 30 wedstryde in die Vrystaat-voorry gesak.

 

Pare broers wat sedert 1895 in dieselfde wedstryd vir die Vrystaat gespeel het, is:

 

37 – Robert en Sias Ebersohn (2010-2012; 2015).

30 - Piet (1986-'92) en André Bester (1987-'93).

28 - Piet (1968-'76) en Willie Strydom (1964-'74).

18 - Jimmy (1998-2003) en Neil Powell (2000-2003; 2008) – Die twee Powell-broers het nooit die voorreg gehad om saam op die veld te wees, want, omdat albei skrumskakel gespeel het, het hulle mekaar dikwels om die beurt in ‘n wedstryd vervang.

17 - Helgard (1983-'92) en Pieter Müller (1990-'92).

16 - Joggie (1967-'78) en Eben Jansen (1976-'86).

11 - Arthur (1895-1906) en Gubby Barlow (1903-‘08).

10 - Arthur (1895-1906) en Roley Barlow (1897-1904).

10 - Johann (1988-'93) en Lauwrens Styger (1990-'93).

 

Ander gevalle is:

 

Dit het in die vroeë jare van Vrystaat-rugby dikwels gebeur dat drie broers in dieselfde wedstryd betrokke was.  Die Barlow-broers – Alfred (1893-1897), Arthur (1895-1906), Roley (1897-1904) en Gubby (1903-1908) - het almal tussen 1893 en 1908 vir die Vrystaat uitgedraf, maar nooit al vier in dieselfde span nie.

Arthur en Gubby het 11 keer in dieselfde wedstryd gespeel en Arthur en Roley in 10 wedstryde saam.  Arthur, Roley en Gubby het in vier wedstryde saamgespeel en Roley, Alfred en Arthur saam in twee wedstryde.

 

Die vyf McHardy-broers – Alec (1904-1910), Johnnie (1906-1910), Willie (1909), Christopher (1909-1912) en die Springbok Boetie (1909-1922) het ook almal vir die Vrystaat gespeel, maar dit was net Alec en Johnnie (in 2 wedstryde), Willie en Christopher (in 2 wedstryde), én Christopher en Boetie (ook in 2 wedstryde) wat saam uitgedraf het.

 

Harold Verster, besturende direkteur van die Cheetah-maatskappy, en sy broer, prof. Basie Verster, het ook die voorreg gehad om in 1974 in drie wedstryde saam in die Vrystaat-trui as losvoorspelers uit te draf.

 

Ander gevalle waar broers in dieselfde Vrystaat-wedstryd gespeel het is:

 

Bert (1897-1903) en Reg Holmes (1903-1908).

Eric (1903-'24) en Keith Hill (1911-'21).

J. (1910-'13) en R. Krynauw (1911-'12).

Lappies (1925-'33) en Mike Hattingh (1931).

Percy (1935-'39) en Walter Brotherton (1936-'38).

Danie (1939-'42) en Honnie Ferreira (1932-'42).

Pat (1954-'56) en Tol McCallaghan (1956).

Steve (1960-'64) en Willie Strydom (1964-'74).

Daan (1969-'74) en Koos de Wet (1971).

Jorrie (1995-'98) en Chris Kruger (1996-'99).

Gerrie (1998-2004) en Lodie Britz (2001-2002).

JP (1998-2004) en Christophe du Toit (2001-2002).

De Wet (2015) en Tertius Kruger (2015).

 

 

  • Inligting deur Frikkie Janse van Rensburg.
Share this article: