Posted on Thursday, 16 Jan 2014
BLOEMFONTEIN. – Drie spelers wat in die Varsitybeker-rugbyreeks iets vir die Shimlas kan beteken, sal Vrydag hier om 08:00 in ’n oefenwedstryd teen dieToyota Cheetahs van beserings terugkeer.
Die skrumskakel Renier Botha (dyspier), flank Tienie Burger (enkel) en agtsteman Gerhard Olivier (enkel) sal hul laaste kans voor die Varsitybeker kry om te beïndruk, en dit nogal op Shimlapark teen van hul Toyota Cheetahs-helde.
Michael Horak, die Shimlas se afrigter, het nog nie sy Varsitybeker-groep verklein nie en sal Vrydag se kragmeting as laaste siftingsproses gebruik.
Die Shimlas en Toyota Cheetahs sal mekaar in ’n wedstryd van 80 minute pak, met die Shimlas wat so te sê twee spanne gaan inspan. Slegs die Shimlas-vleuel JJ de Klerk sal in albei helftes uitdraf.
Van die Shimlas se voorste spelers – soos die haker Elandré Huggett, die veelsydige agterspeler Gouws Prinsloo, die flank Henco Venter en die senter Robbie van Schalkwyk – sal nie in aksie wees nie.
Botha het in verlede jaar se Varsitybeker in Kevin Luiters se afwesigheid die Shimlas se nr. 9-trui gedra.
Hy het in vier kragmetings, met die Ikeys, Pukke, Madibaz en Tuks, begin. Met Luiters, wat in 2013 sy Curriebeker-buiging vir die Vrystaat gemaak het, wat dalk deur die Toyota Cheetahs ingespan kan word, is Botha se beskikbaarheid ’n hupstoot.Nie Burger of Olivier het verlede jaar Varsitybeker-rugby vir die Shimlas gespeel nie, maar was uitblinkers vir die Vrystaat se o.21-rugbyspan. Albei het egter onder beserings deurgeloop.
Horak sal boonop bly wees oor hul beskikbaarheid, aangesien hulle losvoorspelers is en dit hom in dié afdeling meer diepte in die afwesigheid van die beseerde Freddie Ngoza (knie) gee.
Volgens Horak is die doel van Vrydag se oefenwedstryd om sy spelers nóg ’n kans te gee om hulself te bewys. “Van die ouens het my (onder meer Saterdag in Kroonstad teen die Universiteit van Johannbesurg) verbaas en ons wil hulle graag weer sien speel,” het hy gesê.
Die stut Nick Schonert (been) en losskakel Pieter-Steyn de Wet (skouer) kan nog nie oorweeg word nie. Hulle sal hopelik aan die begin van die Varsitybeker fiks wees.
Verder speel Luiters en die flank Oupa Mohoje Vrydag teen hul Shimlas-spanmaats. Hulle is in die Cheetahs se Super-groep en kan later aan die Shimlas vrygestel word.
* Naka Drotské, die Cheetahs se afrigter, het gister gesê sy beseerde heelagter Hennie Daniller (polsgewrig) is reg om Vrydag te speel. Daniller is ’n plaasvervanger in Vrydag se tweede oefenwedstryd om 10:00 teen Griekwas.
Die breier wag nog om te hoor hoe ernstig die flank Jean Cook (hand) se besering is.
Shimlas-spanne teen die Cheetahs:
Span 1: Marco Mason, Don Mlondobozi, Tertius Kruger, Joubert Engelbrecht, JJ de Klerk, Franna du Toit, André van der Walt, Neill Jordaan, Johan van der Hoogt, Tienie Burger, Fanie van der Walt, Armandt Koster, Luan de Bruin, Jacques du Toit, Rudolph Botha.
Span 2: Ludwig Erasmus, AJ Coertzen, Francois Pretorius, Arthur Williams, JJ de Klerk, Niel Marais, Renier Botha, Gerhard Olivier, Sihle Ngxabi, Murray Bondesio, Ockie van Zyl, Justin Basson, Johan van Niekerk, Marco Klopper, Gideon Bruwer. PLAASVERVANGERS: Vaatjie van der Merwe, BJ Koortzen.