Free State Rugby - Since 1895

Buy your tickets online!

Online Tickets

Andries ‘nie juis meer ’n Boer’

Posted on Friday, 03 Aug 2012

Andries ‘nie juis meer ’n Boer’

 

BLOEMFONTEIN. – Al was sy Suid-Afrikaanse aksent gister hier duidelik tussen ’n klomp Walliesers s’n herkenbaar, beskou Andries Pretorius se afrigter by die Cardiff Blues hom nie juis meer as ’n Boer nie.

Volgens Phil Davies, die Blues-breier, is die 26-jarige agtsteman lank in Wallis en nie verniet sy klubspan se kaptein in môre se feeswedstryd teen die Vrystaat nie.

Pretorius, wat in Nelspruit gebore is, kwalifiseer op 1 Desember om vir die Rooi Drake te speel en beplan nie om binnekort na sy geboorteland terug­ te keer nie.

Al het hy vroeër in sy loopbaan teen die Springbok-senter Andries Strauss in Durban gespeel, is Pretorius boonop met ’n Walliese netbalspeler getroud en word hy as toekomstige Wallis-ster beskou. 

Strauss, wat voorheen ’n Haai was, is by Grey-kollege se hoofveld ’n plaasvervanger vir die Vrystaters, terwyl Pretorius ná skool in Durban rugby gespeel het voordat hy Wallis toe is.

Die losvoorspeler is een van slegs ’n paar Blues-spelers wat in môre se stryd, ter herdenking van sir George Grey (die stigter van onder meer Grey-kollege) se 200ste geboortedagviering, 80 minute sal speel. 

Die besoekers sal hul hele toergroep speelkans gee en met twee spanne uitdraf.

Volgens Davies, ’n voormalige Walliese kaptein, is die Vrystaat-stryd sy span se eerste van vier voorseisoense oefenstryde. 

Hy speel ook teen Worcester, Gloucester en Bath voor sy eerste amptelike kragmeting, op 1 September teen Connacht.

Davies meen al is Pretorius byna ’n volwaardige Wallieser, sal sy plaaslike kennis iets teen die Cheetahs werd wees.

“Dis ’n voordeel om iemand van die tuisland in ons span te hê, maar Andries is nou al ’n paar jaar in Wallis en het goed daar aangepas. 

“Tog is sy insette waardevol,” het hy gister gesê.

Hoewel Pretorius, ’n oud-leerling van die Hoërskool Nelspruit, nie te vinnig te veel wil kwytraak nie, is sy oë beslis op ’n Wallis-trui.

“My vrou is ’n Wallieser en ’n internasionale netbalspeler. Sy het drome om aan die Statebondspele deel te neem.

“Ek het hard gewerk om myself in Wallis te vestig en my belange is ten minste vir die kort termyn daar.” 

Volksblad

Foto: Morgan Piek/Rugby15

 

Share this article: