Posted on Tuesday, 05 Oct 2021
Vrystaat Rugby kondig met genoegdoening aan dat ‘n positiewe ooreenkoms tussen Oud-Greys se moederklub en die Vrystaatse Rugby-unie aangegaan is. Die ooreenkoms, wat daarop gerig is om die belange van Oud-Greys se moerderklub asook die Vrystaatse Rugby-unie se belange te beskerm en te omskryf, het vele onderhandelinge en samesprekings oor verskeie jare geverg.
Vrystaatse Rugby-unie behou die volle regte rondom die twee oefenvelde vir oefendoeleindes en wedstryde, terwyl Oud-Greys hul regte in die moederklub behou.
Langs hierdie twee fasiliteite is daar ‘n oop spasie waar die Vrystaatse Rugby-unie goedkeuring van die munisipaliteit ontvang het om ontwikkeling te doen. Planne vir die ontwikkeling is reeds goedgekeur, maar daar word tans nog met moontlike finansiers onderhandel.
Dit neem tyd en Covid het vordering vertraag, maar dinge is nou weer aan die gebeur. Daar word beoog om ontwikkeling te doen tot voordeel van die omgewing. Dit sluit in die studente-omgewing, die Sentrale Universiteit vir Tegnologie (SUT), die Toyota-stadion en selfs ‘n koppeling met die Loch Logan Waterfront.
Hierdie onderhandelinge het oor verskeie jare geskied en daar word nou met waardering aangekondig dat die munisipaliteit, die Oud-Greys-moederliggaam en die Vrystaatse Rugby-unie en Vrystaat Cheetahs (Edms.) Bpk. saamgewerk het om dit in ‘n finale vorm goedgekeur te kry.
Wat nou gaan volg is onderhandelinge met die ontwikkeling van Oud-Greys en die opgradering van die velde – wat aandag nodig het – en om aangename samewerking tussen die Oud-Greys rugbyklub, die Oud-Greys-moederliggaam, Vrystaatse Rugby-unie en die Toyota Cheetahs vorentoe te neem.