Posted on Tuesday, 09 Oct 2012
BLOEMFONTEIN. – Dit gons in die media oor sy natuurlike talent en rugbykenners meen hy is pure Bok, maar dis wat Raymond Rhule se spanmaats dink wat waarskynlik meer tel.
Daarom kan Heyneke Meyer, die Springbok-afrigter, gerus kennis neem van die vleuel wat gisteraand hier twee van die Vrystaatse Rugbyunie (VRU) se vier groot toekennings op sy jaareindfunksie gewen het.
Die 19-jarige Rhule het die eerbewys ontvang vir die speler wat die meeste vordering getoon het en is ook loshande as die Spelers se Speler van die Jaar aangewys.
Sportsterre sê dikwels die grootste eerbewys is om deur hul mede-spelers vereer te word.
Die Springbok-haker Adriaan Strauss is die tweede jaar agtereenvolgens as die VRU se Rugbyster van die Jaar aangewys. Dit is die unie se hoogste eerbewys. Die Bok-losskakel Johan Goosen is die Speler van die Jaar.
Strauss was in 2011 die Speler van die Jaar én Rugbyster van die Jaar. Goosen was toe die speler wat die meeste gevorder het en die flank Lappies Labuschagné die Spelers se Speler van die Jaar.
Rhule is met 8 drieë in 9 Curriebeker-wedstryde die reeks se voorste driedrukker en dus is dit nie vergesog nie dat hy dalk volgende maand saam met sy held, Bryan Habana, en die Bokke in Brittanje kan toer.
Die Jong Bokkie het vanjaar reuse-opgang gemaak nadat hy eers die Universiteit van die Vrystaat in die Varsitybeker-reeks se o.20-liga en daarna die Shimlas in die Varsitybeker verteenwoordig het.
Hy is as plaasvervanger vir die Jong Bokkies na die Junior Wêreldtoernooi ontbied en was eindelik een van die span se uitblinkers. Hy het twee drieë as plaasvervanger in sy span se halfeindstryd-sege van 35-3 oor Argentinië op Nuweland gedruk.
Daarna het hy as buitesenter vir die Vrystaat se o.21-span gekook en draf hy sedert die begin van die Curriebeker-reeks vir die Toyota Vrystaat Cheetahs uit.
Rhule is dikwels ná Curriebeker-wedstryde gekies as die Vrystaat se mees waardevolle speler – ’n weeklikse aanwysing deur die spanbestuur.
Strauss is, sedert Meyer die Bokke slyp, een van die land se twee voorste hakers en met Bismarck du Plessis op die krukkelys dra hy nou die Bokke se nr.?2-trui.
Dié haker vertolk ook ’n sterk leierskaprol in die Groen-en-Goud en het die Toyota Vrystaat Cheetahs met welslae in 2012 se Super-reeks aangevoer.
Goosen het ná ’n goeie Curriebeker-reeks in 2011 ook in vanjaar se Super-reeks geskitter en was tot voor ’n skouerbesering een van die groot uitblinkers.
Hy het onlangs in die Rugby-kampioenskap ’n Bok geword en ook op toetsvlak sy man gestaan.