Are you ready for the clash?

Buy your tickets online!

Online Tickets

Os stel visier fyn in

Posted on Wednesday, 17 Oct 2012

Os stel visier fyn in

 

BLOEMFONTEIN. – Os du Randt, die Vrystaat se voorspeler-afrigter, voorsien nie dieselfde skrum-kopsere as verlede naweek nie, selfs al is Jonathan Kaplan wéér Vrydag hier die man met die fluitjie.

Volgens Du Randt het sy rugbyspan tegniese verstellings, veral aan Ross Geldenhuys se vaskopkant, gemaak ná oorlegpleging met Kaplan.

Nadat hy die Toyota Vrystaat Cheetahs Saterdag swaar teen die Westelike Provinsie by die skrums gestraf het, is Kaplan aangestel om hul eerste promosie-en-relegasie-wedstryd teen die OP-Kings te hanteer.

Die Kings sal meen hulle kan die tuisspan in dié afdeling teiken en Kaplan sal nie in so ’n belangrike wedstryd onnodig die kollig wil steel nie.

Du Randt het Maandag met Kaplan oor die probleme teen die WP gepraat.

“Ons het as span die probleme uitgesorteer. Ons het gepraat oor Ross. Die groot probleme was aan die vaskopkant, op ons en die WP se bal. Die groot kritiek van Jonathan was dat Ross induik in die poel in, dat hy nie reg is voor die inslaan nie. Sy voete is te ver terug­ en hy hang te ver oor die afgrond,” het Du Randt gesê.

“Ons het daarom ’n paar tegniese verstellings gemaak.”

Die voormalige Bok-stut meen sy span het voor die WP-stryd goed met Geldenhuys op vaskop geskrum, maar dit wat Saterdag gebeur het, het weer bewys jy moet weekliks sweet en aanpas.

“Die basiese verstellings wat ons gemaak het, is om Ross se voete meer onder sy bolyf in te kry, sodat hy meer sy eie gewig kan ondersteun.

“Die ander kritiek wat Kaplan teen Ross gehad het, is dat hy van die begin af binnekant toe, nes BJ Botha, inslaan en dit het ons ook reggestel.”

Tog voel Du Randt die Vrystaat was ’n keer of wat teen die WP ongelukkig.

Hy meen Kaplan was waarskynlik reg met Geldenhuys se binnetoe-inslaan, maar dat die WP se Steven Kitshoff ook die skrum laat val het.

“Daar was twee skrums wat Kitshoff op die grond gedruk het. In een skrum het hy twee keer op die grond gedruk en daarna het hulle die oorhand gehad. ’n Ander skeidsregter sou dalk dadelik ’n strafskop teen hom gegee het.”

Boonop meen hy die WP het ook met onwettige skrumwerk weggekom deur die sogenaamde slingshot-metode te gebruik.

Dit is wanneer ’n agtsteman sy slotte terugtrek en vorentoe stoot voordat ingeslaan word. Dit gee meer momentum vanweë ’n kettie-effek van agter.

“My woorde aan Kaplan was dat as dit (slingshot-metode) reg was, gaan ons dieselfde die naweek doen,” het Du Randt gesê.

“Dis beslis ’n voordeel as ’n ou kan inslaan van agter af.”

Maar sy span fokus net op die Kings. “Ons gaan nie bekommerd wees oor wat teen die WP gebeur het nie. Ons het dit gaan regmaak.”  

Foto: Morgan Piek

 

Share this article: