ARE YOU READY FOR THE CLASH?

BUY YOUR TICKETS ONLINE!

TICKET SALES

VS kontrakteer hemelbesem

Posted on Thursday, 02 Nov 2012

VS kontrakteer hemelbesem

BLOEMFONTEIN. – Hy was ongelukkig om nie vanjaar ’n Jong Bokkie te wees nie en die Blou Bulle het hom ook al probeer inkatrol.

Dis met dié agtergrond dat die jong Luiperds-slot Lodewyk (Lood) de Jager onlangs ’n Toyota Vrystaat Cheetah geword het.

Dié hemelbesem, wat 120 kg weeg en 2.05 m lank is, is veronderstel om in 2013 vir die Vrystaat se o.21-span te speel, maar as hy aan die verwagtinge voldoen, wink senior rugby dalk vir hom. 

De Jager, wat in Desember 20 jaar oud word, se koms is aangekondig in dieselfde week dat die Vrystaat ’n ander belowende slot verloor het. Carl Wegner het die vierde ranker uit die sentrale streek geword wat in Europa klubrugby speel nadat hy ’n kontrak met Stade Francais gesluit het.

Izak van der Westhuizen het hom vandeesweek by Edinburgh aangesluit, terwyl Griekwas se George Earle by die Llanelli Scarlets speel en Frikkie Spies van die Poubloues straks op pad Frank­ryk toe is.

Volgens Edinburgh se webwerf, is Van der Westhuizen gister as plaasvervanger vir die Skotse klubspan se stryd vandag teen Ulster ingesluit. Die oud-Cheetah WP Nel is die Edinburgh-vaskopstut.

De Jager se koms is goeie nuus vir Vrystaat-ondersteuners, selfs al is die nr. 5-slot eintlik ’n junior.

Hy het vanjaar vir die Luiperds se o.21-span uitgedraf en is volgens André Tredoux, die Vrystaat o.19-span se afrigter, ’n speler vir die toekoms.

Tredoux, wat vanjaar ’n Vrystaat-breier geword het, het hom verlede jaar by die Luiperds se o.19-span afgerig.

De Jager was in 2011 die Luiperds o.19-span se Speler van die Jaar, waarna die Bulle volgens Tredoux in hom belang gestel het. 

Dié boorling van Alberton was ook in die Pukke se Varsitybeker-groep, maar ’n besering het hom slegs vir die Pukke se o.20-span laat uitdraf.

“Lood is ’n fisieke speler. Hy werk baie hard en het boonop goeie vaardighede. Volgens ’n klomp mense was hy ongelukkig om nie by Suid-Afrika se o.20-span betrokke te wees nie. Hy was tot aan die einde voor die Junior Wêreldtoernooi deel van die Jong Bokkies se proewe,” het Tredoux gesê.
 

Share this article: