Toyota Cheetahs vs Cardiff Blues

Live @Toyota Stadium, Bloemfontein

Current Logs

Vrystaat Rugby bied geleenthede

Posted on Thursday, 28 Feb 2018

Vrystaat Rugby bied geleenthede

 

 Vrystaat is die teelaarde van topspelers, -afrigters, -administrateurs en ander.  Vrystaat Rugby kan ook sonder twyfel gesien word as ‘n provinsie waar daar geleenthede vir spelers op alle vlakke gebied word om tot die hoogste vlakke uit te styg. 

 

Dit geld nie net vir spelers nie, maar selfs vir afrigters en administrateurs.  As gekyk word na die huidige topafrigters in Suid-Afrika, word hierdie feit beklemtoon.  Daar is Rassie Erasmus, Jacques Nienaber, Brendan Venter, Franco Smith, Neil Powell en ook Rory Duncan wat deur ‘n klub in Engeland opgeraap is om daar te gaan afrig. 

 

As daar gekyk word na die 85 Springbokke wat Vrystaat Rugby oor die jare opgelewer het en die aantal topspelers wat tans in die buiteland en in Suid-Afrika speel wat afkomstig is van die Vrystaat, dan is dit ‘n feit dat Vrystaat Rugby inderwaarheid ‘n rugbyfabriek vir Suid-Afrikaanse rugby is. 

 

Self in die nasionale sewesspan is daar ‘n oorvloed Vrystaters soos die kaptein, Philip Snyman, die afrigter, Powell, Chris Dry en ander soos Cecil Africa en Rosko Specman wat ‘n draai hier gemaak het.

Die nuwe benadering by Vrystaat Rugby is om geleenthede te skep vir spelers en daar is geen beter plek om dit te doen as hier nie.  Die twee Varsitybeker-spanne ¬- die Shimlas en Ixias, plus hulle twee Young-Guns-spanne ¬- bied aan Juniors ‘n grondslag van waar hulle kan ontwikkel na hoër vlakke. 

 

Benewens dit is daar die Toyota Cheetahs Akademie waarin ‘n groep jong spelers voorberei word vir groter rugby.  Die nuut ingestelde Vrystaat Cheetahs o.19-liga onder leiding van Franco en MJ Smith beloof om ‘n baie suksesvolle toernooi te wees en wat potensiële topspelers die geleentheid gee om deur te breek.

Die grondslag om op die hoogste vlakke uit te styg is dus baie breed en bied vir almal geleenthede van die Toyota Cheetah Akademie, Young Guns, Varsitybeker-spanne, Toyota Vrystaat Cheetahs o.19-span, Toyota Vrystaat Cheetahs o.21-span, SuperSport-uitdaagbeker, Curriebeker-reeks en dan die Guinness Pro14-reeks.

Die Guinness Pro14-reeks is ‘n internasionale kompetisie wat op dieselfde vlak as Superrugby-reeks gesien word.  Trouens, in die spanne teen wie die Toyota Cheetahs en die Kings meeding, is daar tans 124 internasionale spelers –  29 van Wallis, 21 van Skotland, 43 van Ierland en 31 van Italië. 

 

Dit was ‘n nuwe begin vir die Toyota Cheetahs in die Guinness Pro14-reeks, maar alle aanduidings is daar dat dit van krag tot krag sal gaan en dat die Toyota Cheetahs uiteindelik baie gaan baat daarby om in die Noordelike Halfrond te speel. 

 

Enige jong speler wat dus sy talente wil ontwikkel, moet die Cheetahs baie ernstig oorweeg omdat dit ‘n pad boontoe op verskillende vlakke bied.

Die volgende paar Guinness Pro14-wedstryde, naamlik teen Connacht, die Dragons, Cardiff Blues en Munster is belangrik vir die Toyota Cheetahs om in hulle eerste seisoen die uitspeelrondes van die Guinness Pro14-reeks te haal.

In die raadsale word daar baie positief na Guinness Pro14-reeks verwys en word daar opnuut aandag gegee aan die wedstrydtye, TV-programme en gespreksprogramme rondom die wedstryde wat van 1 September vanjaar op ‘n baie hoër vlak sal wees. 

 

Vrystaat Rugby is ‘n kragbron vir Suid-Afrikaanse rugby en omdat dit so groot kragbron is, bied dit ook vir spelers, afrigters en administrateurs groot geleenthede.  Van daar ons benadering – Vrystaat Rugby bied geleenthede.

 

“Vrystaat Rugby was en is steeds een van die grootste teelaardes van topspelers, afrigters en administrateurs en in die toekoms gaan dit net verder ontwikkel,” sê Harold Verster, besturende direkteur van die Vrystaat Cheetahs (Edms.) Bpk. 

 

“Daar is hope talent en potensiaal in en om die Vrystaat wat hier ontwikkel gaan word om tot op die hoogste vlakke te presteer.  Ek is baie opgewonde oor die toekoms van die Guinness Pro14-reeks en oor dit wat ons vir jong spelers hier in die Vrystaat kan bied,” sê Franco Smith, direkteur van rugby

 

“Ons sake- en rugbystrukture is netjies in plek en ek sien ‘n baie mooi toekoms vir die Guinness Pro14-span en al ons ander spanne.  Daar wag groot opwinding vir ons toeskouers en ondersteuners,” sê Ryno Opperman, voorsitter van die direksie.

Share this article: