Mega Drop Down Menu
Bookmark us
NEWS
Subscribe to Cheetahs News
SHARE TOOLS
SEARCH CHEETAH NEWS
Latest News
Posted on Wednesday, April 16, 2014
Posted on Tuesday, April 15, 2014
Brummer word Poubloue
Brummer word Poubloue
Posted on Wednesday, December 12, 2012
Volksblad

KIMBERLEY. – ’n Oud-stut van die Maties, Brummer Badenhorst, sal Griekwas se voorspeler-korps vir die 2013-rugbyseisoen versterk. 

Die Poubloues se afrigter, Pote Human, het bevestig dat Badenhorst, wat van Stellenbosch na Bloemfontein en nou die Diamantstad getrek het, ’n kontrak tot die einde van volgende jaar se Curriebeker-reeks onderteken het. 

Met stutte soos Ivann Espag (Pumas) en Eugene Butterworth (kontrak verstryk) wat nie weer vir die Noord-Kapenaars beskikbaar is nie, is Badenhorst se koms so welkom soos reën in die woestyn, aangesien net Janro van Niekerk, Lourens Adriaanse en Steph Roberts oorbly om die stutkorps te versterk. 

In die afwesigheid van WP Nel, wat deesdae klubrugby vir die Skotse klubspan Edinburgh speel, en die onsekerheid oor wanneer Coenie Oosthuizen presies ná sy nek- en rugbeserings reg sal wees, behoort veral Adriaanse gereeld speelkans vir die Cheetahs in die Super-reeks te kry. 

Badenhorst sal dus broodnodige diepte aan Griekwas verskaf vir veral die komende Vodacombeker-reeks.

Badenhorst, wat nes die res van sy nuwe spanmaats Saterdag met houtpale en buitebande ’n oefenskof van 20 km as deel van hul voorseisoense voorbereiding aangedurf het, het saam met die gewese Shimlas-slot Joubert Horn hier opgedaag met die hoop om ’n kontrak los te slaan. 

Laasgenoemde oefen nog saam met Griekwas, maar dit is nie seker of hy ’n kontrak sal kry nie. 

“Brummer sal ons baie diepte op stut verskaf. Hy is ’n speler wat graag die bal dra en sal mooi by ons strukture inpas,” sê Human. 

“Hy het my reeds beïndruk met sy gesindheid en die wyse waarop hy oefen. Ons het nog net aan kondisionering gewerk en sal later meer op skrums en lynstane fokus, maar dit is duidelik hy is honger om te speel.” 

Horn het nog kans om Human-hulle tot ander insigte te bring wat ’n kontrak betref, maar kan minstens weekliks gebruik word om diepte op slot te verskaf. 

Edwin Hewitt, Martin Muller en Ligtoring Landman is in die Cheetahs se vergrote groep, terwyl George Earle (Scarlets) en Frikkie Spies (Frankryk) groener weivelde opgesoek het. 

19
Apr
Next Match
The Sharks vs Toyota Cheetahs
Home  |  T's & C's  |  Browser  |  Disclaimer  |  Contact Us  |  Privacy Policy  |  CMS  |  Players  |  Webmaster  |  Online Liquor Login
Copyright © 2012 - 2014 2012 Free State Cheetahs Pty (Ltd)