Mega Drop Down Menu
Bookmark us
NEWS
Subscribe to Cheetahs News
SHARE TOOLS
SEARCH CHEETAH NEWS
Latest News
Posted on Wednesday, October 29, 2014
Posted on Tuesday, October 28, 2014
Bokke kom volgende jaar na Bfn
Bokke kom volgende jaar na Bfn
Posted on Monday, December 10, 2012

DIE Vrystaatse Rugbyunie (VRU) het gister ’n vroeë Kersgeskenk gekry toe die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) ’n Springbok-toets in 2013 aan hom toegeken het.

Lindsay Mould, president van die VRU, het gister bevestig dat die Vrystaat-stadion op 14 Augustus ten tyde van volgende jaar se Rugbykampioenskap gasheer sal speel vir ’n Bok-toets teen die Argentynse Poemas. 

Die Poemas was nog nooit voorheen in ’n Bok-toets in die Vrystaat-stadion betrokke nie. ’n Suid-Amerikaanse span het wel op 3 April 1982 hier verras deur die Bokke 21-12 te klop.

Die Bokke was laas in September 2010 in die Rosestad in aksie toe die Wallabies met 41-39 in ’n opwindende Drienasies-toets baas was.

“Ons is verheug,” het Mould gesê. 

“Dit is ’n groot gebeurtenis vir Bloemfontein. Die Poemas is vinnig besig om in een van die voorste spanne in wêreldrugby te ontwikkel. Ons moet die stadion eenvoudig volpak om te bewys dat ons ’n toets verdien.”

Die VRU het die toets te danke aan ’n besluit dat Saru self voortaan die geldelike risiko sal loop om toetse aan te bied. Unies soos die VRU moes tot onlangs ’n waarborgbedrag aan Saru betaal en self kaartjiepryse bepaal. 

“Saru was die enigste beheerliggaam in wêreldrugby wat nie sy eie toetse besit het nie,” het Jurie Roux, uitvoerende hoof van Saru, in ’n verklaring gesê. 

“Dié besluit deur ons uitvoerende bestuur gee Saru nou eienaarskap. Van die belangrikste voordele (van die besluit) is dat ons ’n deel van die wins (met die aanbied van toetse) in al ons unies kan terugploeg.”

Saru sal ook die kaartjieverkope hanteer en Roux erken die yslike veranderinge sal groot uitdagings rig.

Ook sal die Bokke in 2013 die eerste keer in Nelspruit toetsrugby speel. Die Bokke sal daar ’n opwindende viernasiereeks – wat Samoa, Skotland (albei is in Suid-Afrika se 2015 Wêreldbeker-groep) en Italië insluit – begin. 

• Die Bok-bepalings is 
2013: 8 Junie – Italië (Mbombela-stadion), Skotland t. Samoa, 15 Junie – Skotland (Kingspark), Samoa t. Italië, 22 Junie – Span 3 (op puntelys) t. Span 4, Span 1 t. Span 2 (Loftus Versfeld), 17 Augustus – Argentinië (Vrystaat-stadion), 28 September – Australië (Nuweland), 5 Oktober – Nieu-Seeland (Coca-Colapark). 

2014 (datums moet bevestig word): Wallis (Johannesburg), Wallis (Nelspruit), Skotland (Port Elizabeth), Argentinië (Pretoria), Australië (Kaapstad), Nieu-Seeland (Johannesburg). 

2015: Argentinië (Kaapstad), Australië (Durban), Nieu-Seeland (Johannesburg).  

Home  |  T's & C's  |  Browser  |  Disclaimer  |  Contact Us  |  Privacy Policy  |  CMS  |  Players  |  Webmaster  |  Online Liquor Login
Copyright © 2012 - 2014 2012 Free State Cheetahs Pty (Ltd)